Grendeltyd knou eiendomsmark — kopers moet nou spring!

Arona Rossouw

LEPHALALE — Die grendeltyd het geen besigheid onaangeraak gelaat nie – feitlik alle besighede, groot of klein, het daaronder gely. Mogol Pos het by eiendomsagentskappe gaan inloer om te hoor wat presies die impak van die grendeltyd was of steeds is.

Arona Rossouw van @Sold Eiendomme sê die grendeltyd het haar besigheid – soos talle ander besighede – verhoed om enige kliënte te ontvang of uit te neem na eiendomme wat te koop/huur is. Die realiteit is dat geen kliënt ’n eiendom sal koop of huur voordat hy/sy dit nie self gesien het nie.

“Alhoewel ons steeds kon adverteer en eiendomme aktief op sosiale media bemark en kliënte telefonies gekontak het, was dit steeds moeilik om ’n kontrak te beklink. Die grendeltyd het vir seker ons besigheid, wat verhurings en verkope insluit, negatief geraak,” sê Arona.

Sy sê as sy die afgelope maande se verkope en verhurings moet vergelyk met die verkope en verhurings van dieselfde tyd verlede jaar het hulle besigheid met 30% tot 40% afgeneem.

Gaan die situasie weer normaliseer en indien wel, wanneer?

“Dis baie moeilik om ’n voorspelling te maak oor hoe lank dit gaan neem voor die situasie normaliseer. Ek wens ek het ’n glasbal gehad om te kon sien.

“Ek dink ons verhurings sal normaliseer sodra die industrieë in ons dorp weer volstoom terug na normaal is. Verkope sal eers normaliseer wanneer mense weer vertroue in die ekonomie het,” sê sy.

Besigheid in die eiendomsbedryf het egter voor die grendeltyd reeds begin afneem soos die voltooiing van Medupi nader en Arona sê heelwat konstruksiemaatskappye het hulle huurkontrakte reeds voor die grendeltyd beëindig omdat hulle kontrakte by Medupi voltooi is.

Daar is tans ook volgens haar kennis geen vooruitsig rakende toekomstige uitbreiding in Lephalale in die nabye toekoms nie.

Die positiewe nuus vir kopers is dat hulle tans die geleentheid het om spog-eiendomme teen goeie pryse te koop.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.