Groot gees groet

LEPHALALE — Cobus van Biljon se afsterwe op 14 Junie laat ’n groot leemte in Lephalale. Hy was in Ellisras se Laer- en Hoërskool en sy ouers, Hennie en Nellie, was bekende inwoners.

Sy pa het die JO Garage op die dorp gekoop en Cobus het hom later by sy pa aangesluit. Die vulstasie en handelaarskap, ’n bekende en gewilde stop vir boere en inwoners, was waar BP vulstasie vandag is.

Na sy pa se afsterwe het hy voortgegaan met die besigheid.

In Mogol Pos se eerste uitgawe van 16 Februarie 1996 pryk ’n advertensie van JO Garage waar ’n Mazda 626 1.6 vir R6 000 te koop aangebied was.

Cobus het later jare as verkoopspersoon by ander motorhandelaars begin werk en was voor sy afsterwe ’n bekende gesig by Bosveld Motors. Hy was ’n uitmuntende en eerlike verkoopspersoon met baie ervaring.

Sy gesin was vir hom baie belangrik en hy het met deernis na hulle omgesien. Diegene wat vir Cobus geken het gaan hom vir seker mis.

Wyle Cobus van Biljon se begrafnis is Donderdag om 11:00 vanuit die NG Kerk Albertyn.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.