Groot hoogtes vir oudleerder

Mirelda en Neels

LEPHALALE — Neels Troskie, ’n oudleerder van Hoërskool Ellisras, is onlangs deur die internasionale farmaseutiese reus, Novartis, vereer. Hy is die enigste Suid-Afrikaner wat dit ontvang het.

Dié toekenning is ter erkenning aan sy volgehoue besigheidsresultate, leierskap en die uitleef van die Novartis-waardes en gedragskode. Slegs ʼn handjievol van die meer as 30 000 werknemers wêreldwyd – waaronder Sandoz, Novartis Pharma en Novartis Onkologie – ontvang hierdie toekenning.

Neels, en sy vrou Mirelda, is genooi na ’n eenmaal-in-’n-leeftyd spog-toekenningsgeleentheid in Basel, Switserland, waar hulle ook die hoofkantoor besoek het. Hul weeklange besoek het hul ook die geleentheid gegee om in die pragarea van Lucerne en die Titlisberge skouers te skuur met ván die ander wenners.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.