Grootvoete loop groot spore

LEPHALALE — Groot was menige grondeienaar se verbasing toe spore van eers drie en later twee olifante op plase in die Lephalale munisipale gebied opgemerk is.

Elmay van Tonder saam met haar kinders JJ en Lané kyk na die
spore in Marken

Volgens Cois van Tonder van die plaas Murchison het hulle die spore vir die eerste keer Saterdag 27 April raakgesien en nadat hulle met verskeie boere in die omgewing gepraat het, het hulle besef dié twee grotes loop wye draaie. Hulle het ook Saterdag ʼn boodskap ontvang dat daar twee olifante in die Beauty-omgewing loop en dit het die spore verklaar.

Cois van Tonder bekyk die drade waar die twee olifante deurgebreek het na die plaas Klipput

In Marken is die spore sommer in die dorp langs die skool gesien.

Hulle het ook geloop op die plase Swartbult, Willowmore en Klipput.

Marco Lukas van Scatplaas in die Beska-omgewing het Saterdagoggend omstreeks 07:00 spore gesien van ʼn olifantbul wat deur die plaas is. Hy sê die spore het van daar af aangedui dat hulle beweeg na rigting Shongoane.

Niemand het die olifante gesien nie, waarskynlik omdat hulle hoofsaaklik in die aand beweeg.

Volgens adjudant-offisier Frans Mokoena, Lephalale klusterwoordvoerder, het hy inligting ontvang vanaf Villa Nora se GPF dat olifantspore Saterdag omstreeks 18:00 en 19:00 gesien is in Shongoane 3 by Bangalong en Maeteletja Village.

Mogol Pos het Dinsdagoggend 30 April met ʼn woordvoerder van die Departement Natuurbewaring gepraat en volgens hom was daar aanvanklik drie olifante wat vermoedelik by Stockpoort deur die grens gebreek het. Hy sê spore dui daarop dat die een olifant weggebreek het van die ander twee en terug is na rigting Botswana.

Teen druktyd Dinsdag het hy wel bevestig dat die olifante nie meer in die Lephalale munisipale gebied beweeg nie, maar hulle is deur grondeienaars suid van Marken opgemerk.

Ter wille van die veiligheid van die diere word die presiese area nie bekendgemaak nie.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.