Harde werk word beloon

LEPHALALE — Marlien van Vuuren glo daaraan dat harde werk beloon word en dat jy nie moet uitstel nie. Dit is harde werk wat verseker het dat sy een van Hoërskool Ellisras se top 5- presteerders was vir 2017.
Marlien behaal vyf onderskeidings en ʼn gemiddeld van 77,0%.
Sy het onderskeidings in besigheidstudies (80%), visuele kuns (91%), Afrikaans (huistaal) (81%), Engels (eerste addisionele taal (82%) en lewensoriëntering (89%).
Marlien het reeds in 2017 ʼn onderhoud gehad by PSG Wealth Ellisras en ten tyde van Mogol Pos se gesprek het sy reeds as ontvangsdame daar gewerk. Deel van haar toekomsplanne is egter wel om deeltyds BCom Finansiële Bestuur deur UNISA te studeer.
Die belangrikste les wat Marlien gedurende haar skoolloopbaan geleer het is om nooit uit te stel nie, want van uitstel kom afstel.” Gee net jou beste en jy sal die vrugte pluk, ” sê sy.
Sy moedig vanjaar se matrieks aan om elke oomblik van hulle spesiale jaar te geniet, want “voor jy jou oë uitvee is die jaar verby”.
“Baie dankie aan my ma, Ester van Vuuren, vir al die laat aande koffie aandra en trane afvee. Mamma was my steunpilaar. Baie dankie ook aan elke onderwyser vir hulle harde werk en moeite deur die jaar en aan my familie en vriende wat my deur die jaar ondersteun het. Ek sal julle vir ewig dankbaar wees en natuurlik sou ek dit nie kon doen sonder God se genade nie,” sluit Marlien af.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.