Haweloos en moedeloos

LEPHALALE — Hoe goed ken jy die haweloses en versamelaars van alles en nog wat? Kortom versamelaars van rommel. Weet jy hoekom hulle op sypaadjies en in die bosse onder bome slaap?

Mogol Pos het met Assis Pontes van die Waterkloofgrond regoor Pika Groothandelaar gesels oor die mense wat op sy grond woon en mors – sonder huis. Sommer so. Onder die blote hemel, omring deur bottels, sakke, stukke ou brood en kos en hope gemors wat die omgewing so ontsier dat inwoners begin krapperig raak oor die onooglikheid daarvan.

Volgens Assis het hy gaan ondersoek instel oor dié seer oog, maar kon geen “plakkershut” vind wat op grondbesetting dui nie. Hy sê dat om dié mense bloot te verjaag word dit doodeenvoudig iemand anders se probleem en “ek kan nie alleen hierdie sosio-ekonomiese probleem aanspreek nie.” Hy sê verder dat haweloosheid ʼn toestand is waar mense geen heenkome het nie en totaal dakloos gelaat is. Assis sê slegs kenners en groot organisasies met volhoubare hulpbronne kan fasiliteer en bystand verleen om mense te help om hulleself te help. Mits hulle gehelp wil word.

Jacques en sy hond woon nou al vir ’n geruime tyd op die einste grond. Sy ouers is lank gelede oorlede en hy bring nou sy dae onder bome deur en probeer los werkies vind. Maar selfs dit is moeilik, “want mense vertrou jou nie”. Saans slaap hy langs KFC op die hoek van Pikastraat en OR Tamborylaan. “Daar is so hier en daar mense wat my al ken en help met kos.”

Waar was jy jouself? “Ek het altyd rivier toe gestap om myself en my klere daar te was, maar die water is nou min en vuil van die riool”. En nou? Jacques trek sy skouers in ʼn moedelose gebaar op. Hoe het jy hier beland? “Ek wou hier kom werk soek om vir my dogter in Modimolle ʼn sweetpak te koop, maar niemand neem my in diens nie.” Het jy al by ʼn kerk probeer hulp soek? “Nee, want ek weet nie watter kerk nie. Ek was altyd by die Lede van Christus-kerk”. Hy sê mense het vir hom gesê die SAVF kan hom help, maar dié kon hom na bewering nie help nie. En verder: “Ek weet ek het baie in my lewe opgeneuk en dit is niemand anders se skuld nie. Ek sal elke dag strate skoonmaak as iemand my net ʼn klein vergoeding daarvoor sal gee.”

En dan is daar Frans. Drie-en-sestig jaar oud. Hy herwin op sy beurt plastiek- en glasbottels om ʼn geldjie te maak uit die groot vullishouers in die dorp.

Dit lyk soos ʼn rommelhoop waar hy sy “herwinning” doen. Rommel en ou kos net waar jy kyk. En dit langs die hoofstraat waar toeriste elke dag verbyry. Maar dit is duidelik dat dit sy fisiese ruimte is wat vir hom ʼn mate van sekuriteit bied. Frans bly daar want hy wag vir sy SASSA-geld sê hy. Hy haal sy nuwe ID- en ʼn SASSA-kaart en ʼn vorm uit ʼn bottel, “maar die geld het nie saam met die kaart gekom nie”. Hulle sê hy sal dit die einde van die maand kry dan gaan hy huis toe. Maar toe daag daar ʼn familielid op wat sy bedenkinge daaroor het.

Is die hawelose-probleem net groot organisasies se probleem of raak dit ook die gewone mens op straat se klein goeddoenbydrae – op welke manier ookal?

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.