Herwin en hersikleer

Mari Murray (regs) verduidelik hoe herwinning gedoen word

LEPHALALE — Lephalale Going Green (LGG), die privaat inisiatief wat poog om die plaaslike munisipaliteit by te staan om die dorp skoner en netjieser te kry, het tydens die afgelope Bosveldfees ʼn stalletjie gehad onder die bekwame leiding van Mari Murray.

Mari het tydens ʼn LGG-vergadering, gehou op Donderdag 11 Julie, terugvoering daaroor gegee. Sy het gesê dat daar baie belangstelling was tydens die fees en mense het gereeld by die stalletjie aangedoen waar sy en helpers van LGG mense aangemoedig het om te herwin en hersikleer en hoe om dit te doen. Veral huisvrouens het baie vrae gehad oor die proses van herwinning en was positief om dit tuis te implementeer. LGG bedank die Bosveldfeeskomitee vir die geleentheid om ʼn stalletjie by die fees te kon oprig.

Verteenwoordigers van die munisipaliteit kon tydens die vergadering nog nie definitiewe inligting verskaf oor hoe die proses van gevaarlike afvalprodukte geïmplementeer gaan word nie. Dit is ʼn baie dringende saak aangesien daar steeds baie mense is wat nie weet dat gebreekte buisligte chemiese stowwe bevat wat uiters gevaarlik is sou mens daarmee in verbinding kom nie.

Volgens Edward Mashishi van die Vullisdepartement by die Lephalale Munisipaliteit sal spesiale houers verskaf word waarin buisligte wat in onbruik geraak het geplaas kan word. Mogol Pos sal lesers op hoogte hou asook waar kleiner batterye gedeponeer kan word.

Intussen vorder die plasing van meer oranje en blou vullisdromme op strategiese plekke in die dorp. Oranje dromme is vir gewone afval en blou dromme vir herwinbare produkte soos plastiese bottels, koeldrankblikkies, plastiese sakke, papier en karton. Let asb daarop dat polistireenkosbakkies nie herwinbaar is nie. Daar is ʼn groot draadhouer by Mica Hardeware opgerig waarin sakke met herwinbare produkte gegooi kan word.

Daar lê egter nog groot uitdagings voor en die gemeenskap word versoek om te help in hierdie grootse poging.

Opheffingswerk en opvoeding gaan intussen voort by skole.

Indien jy wil deel wees van hierdie projek, skakel Trudie Grobler by 082 331 4578.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.