Hoërskool Ellisras

Besige Januarie!

LEPHALALE — Die graad 8-leerders van Hoërskool Ellisras het hulle hoërskoolloopbaan vanjaar op Woensdag 17 Januarie begin met naamborde sodat hulle uitgeken en verwelkom kan word deur die res van die skool.
Die skool se huissportatletiekbyeenkoms vind Donderdag 25 Januarie plaas en die graad 8-atlete sê hulle sien baie uit daarna om teen hulle mede-graad 8’s vanuit ander laerskole mee te ding. Die atlete en toeskouers neem Vrydag 26 Januarie aan ʼn atletiekbyeenkoms deel te Mookgophong (Naboomspruit).
Die toetsreekse vir alle grade begin al Dinsdag 30 Januarie en die graad 8-leerders oefen tussen al die bedrywighede deur aan hulle nuwelingskonsert.
Waarnemende skoolhoof, Nils Meiring, wens ieder en elk ’n geseënde jaar met vele hoogtepunte toe.

EHS-matrieks beloon

LEPHALALE — Hoërskool Ellisras se talentvolle matrieks van 2018 is ryklik beloon vir hulle prestasies tydens die Waterbergdistrikprysuitdeling wat Vrydag 12 Januarie by Forever Resorts in Bela-Bela gehou is.
Cheranté Snyman is aangewys as die derde beste leerder in die Waterbergdistrik en sy ontvang ʼn trofee as beste Wiskundeleerder in die distrik.
Marlien van Vuuren ontvang ʼn trofee vir die beste Visuele Kuns-leerder in die distrik.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.