Hondevergiftiging — wat om te doen

LEPHALALE — Verskeie voorvalle van honde wat vergiftig word, veral in die Onverwacht area, het die afgelope tyd weer toegeneem. Volgens Thys Eloff, voorsitter van die GPF, het die inwoners van onder andere Waterbessiestraat deurgeloop.

Van die inwoners is te bang om hulle honde saans buite te laat slaap uit vrees dat hulle die slagoffers van kriminele word.

Die tendens van hondevergiftiging is tans baie algemeen in Lephalale en omgewing. In strate waar honde vergiftig word, volg daar gewoonlik ʼn reeks inbrake.

Die GPF het professor Gerhard Verdoorn, ʼn internasionaal-erkende vergiftigingsdeskundige geraadpleeg en die volgende inligting verskaf:

Gifstowwe wat algemeen gebruik word, is: Aldicarb (Temik) is swart korreltjies soos poppiesaad; Karbofuraan (Curaterr of Carbofuran) is blou growwe korrels soos waspoeier; Metomiel (Lannate) is wit poeier soos talk of liggeel korrels en Z (Killem Super) soos ligbruin suiker.

Simptome van honde wat vergiftig is, is onder andere verkleinde pupille wat nie op lig reageer nie; swaar asemhaling; naarheid en braking, verlamming, speekselafskeiding en bewerasie.

As jy gesien het dat jou hond giflokaas gevreet het, maak ’n bolletjie so groot soos ʼn ertjie van seeppoeier en gooi dit in hond se keel om braking te induseer. Gee daarna 10 aktiewe koolstoftablette per 5 kg liggaamsmassa met baie drinkwater saam met ʼn bietjie sout. Spuit daarna 4 mg per kilogram liggaamsmassa Atropiensulfaat binnespiers en hou die pupille dop. Sodra die pupille weer verklein, spuit weer Atropiensulfaat. Herhaal tot pupille normaal op lig reageer. As die hond reeds lê, moenie braking induseer nie, maar spuit slegs Atropiensulfaat. Die beste is om die hond dadelik na ʼn veearts te neem.

Skakel dr Gerhard Verdoorn van die Griffon Inligtingsentrum by 082 446 8946 vir meer inligting. Die inligtingsentrum is 24 uur per dag beskikbaar.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.