Huldeblyk – Piet Horn

11 Maart 1956 – 31 Desember 2017

LEPHALALE – Piet Horn is Dinsdag, 9 Januarie 2018 in Lephalale te ruste gelê. Die begrafnisdiens is in die NG Kerk Albertyn gehou deur dr. Hennie Hoepfner.
Piet het vir jare gebuk gegaan onder diabetes en sy gesondheid het stelselmatig, maar veral die afgelope maande, drasties agteruitgegaan. Sy ma, Stiena, het hom getrou deur al die jare versorg.
In roerende woorde sê sy: “Vandag breek ʼn stukkie van my hart, maar ek stuur die stukkie saam met jou om altyd naby jou te hou. My liefde vir jou, my seun, sal nie gemeet kan word nie. Dit het my hart gebreek om jou so te sien; eens was jy ʼn gesonde lewenslustige seun en man wat geen sorge in die lewe gehad het nie en ewe skielik was jy hulpeloos en later kon jy nie ʼn vinger verroer nie. Ek moes alles vir jou doen, jou voer, bad, in die bed draai. Alles. Ek weet dit was vir jou ook nie maklik nie. Ek was altyd so bevrees dat jy sal seerkry, tot vandag waar ek afskeid van jou moet neem by die graf. Jy rus nou veilig by die Here sonder pyn en leed. Daarby berus ek my, my seun”.
Piet was ook geliefd onder sy broers en susters en hulle is dit eens dat hulle glo dat hy nou op ʼn beter plek is. Die gesin betreur Piet se heengaan en bedank almal wat op een of ander wyse sy lewe verryk het met ʼn hand van vriendskap en belangstelling.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.