Ietermagodief gevonnis

BALTIMORE — Piason Changoja (34) ʼn Zimbabwiese burger, is Vrydag 9 Februarie in die Landdroshof in Bochum (Baltimore-omgewing) gevonnis tot ʼn boete van R10 000 of vyf jaar gevangenisstraf vir die onwettige aanhouding en verkoop van ʼn ietermago.

Dié ietermago wat verkoop sou word

Volgens adjudant-offisier Jurg van Heerden van die Bedreigde Spesies-eenheid in Limpopo, het ʼn boer van die omgewing hulle geskakel nadat Changoja by hom wou hoor of hy nie ʼn koper vir ʼn ietermago het nie.

Die boer het vir Changoja gesê hy stel self belang om die ietermago te koop, waarna hy Van Heerden asook die Departement van Natuurbewaring geskakel het. Changoja het afgespreek om sy koper by die T-aansluiting by Baltimore te ontmoet. Toe Van Heerden en sy span daar opdaag wag daar ʼn ander man, ook ʼn Zimbabwiese burger, vir hulle en sê Changoja het versoek dat hulle hom by die Swartwaterafdraai ontmoet. Changoja het daar aangekom met ʼn motorfiets met ʼn groot swart krat agterop. Binne-in die krat was die 10 kg-wyfieietermago in ʼn wit sak toegevou. Hy wou haar vir net R15 000 verkoop. Volgens Van Heerden is die waarde van ʼn wyfieietermago met ʼn massa van 10 kg sowat R300 000.

Albei die verdagtes is gearresteer, maar die een se saak is teruggetrek.

Changoja het die R10 000 boete betaal en is vrygelaat.

Prof Ray Jansen van die Tswane University of Technology (TUT) het verswarend in die hof getuig en die belangrikheid van hierdie diere en in hoe ʼn mate hulle bedreig is in die wêreld aan die hof verduidelik. Die ietermago is tans ʼn nommer een bedreigde spesie op Cities se lys van bedreigde spesies.

Volgens Van Heerden is die maksimum vonnis vir ʼn oortreding soos hierdie R250 000 of 15 jaar gevangenisstraf en is ʼn boete van slegs R10 000 nie in lyn hiervolgens nie.

Die wyfieietermago is intussen in Limpopo vrygelaat met ʼn mikroskyfie wat haar bewegings monitor. Sy beweeg vrylik rond, eet goed en het goed aangepas.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.