inbrake neem toe

LEPHALALE — “Besigheidsinbrake in Lephalale het die laaste tyd toegeneem,” sê Francois Roets, eienaar van Monster Sekuriteit in Lephalale.

’n Besigheidsroof is Dinsdagaand 21 Julie aan hulle deurgegee en ’n trollie en gereedskap is op die toneel gekry. Vyf sonpanele, reeds vanaf die dak verwyder, is ook gekry. Volgens Roets is voetspore op die toneel gevolg wat gelei het na die sonpanele wat die verdagtes vermoedelik wou steel.

Toegang tot die perseel is verkry deur ’n gat in die heining te knip. ’n Draad wat toegang tot die dak versper, is ook geknip.

Die verdagtes het vanaf die toneel gevlug en teen druktyd was niemand nog in verband met die voorval gearresteer nie.

Dieselfde voetspore word met verskeie ander besigheidsrooftogte verbind.  

Verdagtes het ook Sondag 26 Julie vanaf die toneel gevlug in nóg ’n poging tot besigheidsroof in Eckardstraat in Lephalale.

Monster Sekuriteit se beheerkamer is om 02:02 van inbraak by ’n besigheidsperseel in kennis gestel waarna ’n reaksiespan na die toneel is.

Die verdagtes het op die vlug geslaan en ’n sekuriteitswag is op die toneel geplaas totdat verdere ondersoeke kon plaasvind.

Geen verdere inligting was teen druktyd beskikbaar nie.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.