Internetmisdaad — nuutste tendens

LEPHALALE — Kolonel Daniël Ramakgoakgoa, stasiebevelvoerder by Lephalale Polisie, het verlede Donderdag by die GPF-vergadering gesê die gemeenskap moet bewus gemaak word van internetmisdaad.

Hy het gesê iemand adverteer byvoorbeeld ʼn voertuig wat te koop is op ʼn bekende internetwebtuiste soos OLX, die krimineel doen navraag, neem die voertuig vir ʼn “toetsrit” en verdwyn daarmee. Volgens Ramakgoakgoa gebeur dit ook dat iemand ʼn voertuig “koop” en ʼn internetbetaling doen. Die betaling registreer op die verkoper se selfoon as bewys van betaling, maar die transaksie word ʼn paar dae later “omgekeer” en die geld is weg!

Hy het ook gewaarsku dat mens nooit enige banknavrae telefonies moet antwoord nie. Nie eers as dit ʼn amptelike oproep van ʼn werknemer van die bank is nie. Hy sê dit gebeur toenemend dat verdagtes belangrike persoonlike inligting telefonies probeer bekom. Hulle vra vrae oor persoonlike bankinligting en vra selfs dat die foon afgeskakel word. Op dié manier word al jou geld uit jou bankrekening onttrek.

Kol Ramakgoakgoa het aangedui dat die polisie ʼn vergadering met bankbestuurders in die dorp beplan sodat die toenemende OTM-bedrog en ander bankverwante misdade aangespreek kan word.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.