Jare van onthou …

Oom Nols en oom Gielie

LEPHALALE — Oom Gielie Booysen en oom Nols van Biljon. Dié twee legendes het onlangs heerlik saamgekuier op die plaas Boschpoort van Gert van Biljon en jare se onthou het herleef!
Gedagtes oor die klein dorpie en sy stofpaaie, die ou poskantoor waar jy nog jou pos oor die toonbank gevra het, oom Braam Grobbelaar, die bevelvoerder van die polisiestasie wat almal se vriend was, ou dr Jan Müller, die enigste dokter in die bosveld in daardie tyd. Ellisras Hotel wat die eerste sigbare gebou was as jy in die “dorp” inry van die “voorwêreld” af! En dan natuurlik die Waterkloof Kontantwinkel van oom Nols en sy vrou Kotie waar baie mense, alhoewel ʼn kontantwinkel, op die boek kon koop! Later die apteek van oom Jan du Bruyn waar jy jou vuurwapen én jou medisyne kon koop. Wat is nou lekkerder as om ʼn nostalgiese reis terug in die verlede vol onthou te onderneem!
Oom Gielie is op 10 Oktober 1928 in die Nylstroomomgewing (Modimolle) gebore op die plaas Doornfontein, terwyl oom Nols op 7 Maart 1928 op die plaas Nylsynoog, ook naby Nylstroom die eerste lewenslig aanskou het. Alhoewel hulle mekaar as kinders nie geken het nie, kruis dié twee se paaie jare daarna op Ellisras.
In 1952 het oom Gielie as padmaker die Bosveld se aansluitings begin bymekaar bring met paaie en brûe vanaf Ellisras na Vaalwater, Steenbokpan, Stockpoort en Marken en gesorg dat die paaie in ‘n goeie rybare toestand bly. Na sy aftrede spits hy hom voltyds op sy boerdery toe wat hy later as gevolg van sy gesondheid aan sy seun oorgee.
Maar al wil die bene nie elke dag saamspeel nie, melk hy nog steeds elke dag sy eie melkkoeie op De Kuile waar hy tans woon.
Oom Nols se ouers is vanaf Nylstroom Johanneburg toe waar sy pa werk by die myn gekry het. Gedurende 1935 verhuis hulle Bosveld toe en sy pa begin saam met ou oom Kootjie Booysen boer op die plaas Grootvlei. Oom Nols gaan skool op Fourieskloof en later Waterkloofskool – voorheen Grootfontein. Daar ontmoet hy vir Marthie van Rooyen wat later met Gielie sou trou en nóg later vir Nols en Kotie in die Waterkloof Kontantwinkel sou werk. Kotie was ʼn nooi Schoeman en suster van die ewe bekende oom Roelf, oom Lambert en oom Thomas Schoeman van Afguns. Oom Nols noem so terloops dat hy ook so vanaf 1948 die “wapad” gevat het en by padwerke betrokke geraak het. Ná sy aftrede het Gert die boerdery en besighede oorgeneem en bly oom Nols in sy eie woonstel op die plaas Boschpoort.
Twee Bosvelders in murg en been wie se lewensreis in Ellisras eendag diep spore sal nalaat!

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.