Kan jou kind hoor?

LEPHALALE — “Mense dink as jy nie kan hoor nie, kan jy niks hoor nie, so jy gaan nie skrik as ʼn deur byvoorbeeld toeklap of iemand jou naam roep nie,” sê Yolandi Graham, oudioloog in Lephalale.

Yolandi Graham sê kinders se ore moet gereeld getoets word

Volgens Yolandi werk gehoorverlies nie so nie, gehoorverlies beteken jy verloor jou vermoë om sekere klanke te hoor. “Jy kry lae, middel en sterk klanke. As iemand se gehoor oor die algemeen goed is, maar hy of sy het net op een plek ʼn afname in gehoor, soos byvoorbeeld “s”, “p” en “f” dan val net daardie klanke weg. Die persoon gaan waarskynlik hoor wát jy sê, maar hy/sy gaan moet dink om uit te werk wat jy gesê het,” verduidelik Yolandi.

Sy sê as ʼn kind se gehoor aangetas is, kan dit baie lank neem voordat mens dit agterkom, daarom moet ʼn kind se gehoor by geboorte en voordat hy/sy skool toe gaan getoets word. “As ʼn kind byvoorbeeld die “s”-klank nie kan hoor nie en die onderwyser praat in die klas – hoe kan die kind hoor wat gesê word of erger nog, dit spel?” vra sy.

“Daar is baie navorsing hieroor gedoen – hoe meer jy moet uitwerk wat gesê word, hoe minder energie is daar in die brein oor om te ‘onthou’ wat gehoor is. So ʼn kind moet dubbel so hard werk om te probeer uitwerk wat gesê is – hulle gebruik konteksleidrade en probeer liplees. Hulle kry swaar,” sê sy verder.

“Ek sien kinders wat akademies sukkel en eers as die onderwyser vra of die kind se gehoor al getoets is, dan kom die ouers om die kind se gehoor te toets. As daar iets verkeerd is met die kind se gehoor is dit ʼn groot skok en die besef dat die kind al hóé lank sukkel is oorweldigend. Hy het waarskynlik raas gekry en moed verloor, maar intussen kry hy nie die regte boodskap nie,” verduidelik Yolandi.

Volgens haar neem gehoorverlies vir seker toe, veral onder jong mense, omdat die gebruik van oorfone toeneem. Die kinders begin al jonger om harde musiek te luister met hulle oorfone en wanneer die omgewingsgeluide hulle pla, word die oorfone al harder en harder gestel.

Sy sê dit is kommerwekkend dat sy sover vanjaar ʼn hele paar kinders (graad 2 en 3) gehad het wat deur onderwysers na haar verwys is.

ʼn Sinusprobleem, aanhoudende oorinfeksies en wasproppe in jou ore kan ván die oorsake wees van gehoorverlies. Dit is in sommige gevalle behandelbaar en dit is soms permanent – maar jy gaan nie weet as jy dit nie laat toets nie.

Yolandi waarsku dat die gebruik van oorstokkies om ore “skoon” te maak, ʼn groot sondebok is.

“Mens moet glad nie iets in jou ore druk nie. Daar móét was in jou ore wees, want jou oorkanaal produseer was. As jy ʼn oorstokkie gebruik, kompakteer jy die was. Ek kry soms stukkies watte van oorstokkies wat in die ore agterbly,” sê Yolandi.

As jou kind se spraak nie reg is nie, dan is dit moontlik dat hy/sy nie kan hoor nie. As jy bekommerd is, moenie wag nie. As jy opmerk dat jou kind se spraak nie op dieselfde vlak is as sy/haar portuurgroep nie, of as jou kind sukkel om klanke te leer of die opdrag in die klas uit te voer, laat toets sy/haar gehoor.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.