Kinders met diabetes — Cheree Swanepoel

LEPHALALE — Pierre en Rosa Swanepoel het onraad begin vermoed toe Cheree (7) vroeër vanjaar kort-kort waterpokkies gekry het. Sy het ook gewig verloor, aanhoudende blaasinfeksie gehad, was heeltyd dors, het baie geürineer en het gekla van hoof- en maagpyn. Op 14 Augustus vanjaar is sy gediagnoseer met tipe 1 diabetes.
ʼn Sigbaar aangedane Pierre vertel dat hulle Cheree elke keer na dieselfde dokter geneem het. Dié dokter het telkens kortisoon of antibiotika voorgeskryf vir haar chroniese blaasinfeksies. “Hy het nooit haar bloedsuikervlakke getoets of eers gedink aan bloedtoetse nie,” sê Pierre.
Toe Rosa vanjaar siek word en dokter toe gaan, besluit Pierre op die ingewing van die oomblik om ʼn ander dokter te vra om sy kind te ondersoek. Hy het aangedring daarop dat die dokter Cheree se bloedsuikervlak toets.
Na ʼn ondersoek is ʼn baie ernstige blaasinfeksie bevestig en haar bloedglukosevlakke ʼn hemelhoë 17.6.
“Hy het om-gedraai en gesê hy stel voor ons pak ons tasse, ry Pretoria toe en gaan sien ʼn spesialis,” sê Pierre.
Hulle is later verwys na dr JC van Dyk, ʼn pediatriese endokrinoloog by die Little Company of Mary Hospitaal in Groenkloof Pretoria waar sy vir twee dae in die hoësorgafdeling behandel is. Volgens Rosa was sy ontwater en die ketone in haar bloed was baie hoog (volgens Rosa is ʼn eenvoudige verduideliking daarvoor dat haar bloed “suur” raak).
Vandag is Cheree ʼn dogtertjie wat enigiets mag eet, solank haar ouers net weet wat sy gaan eet sodat hulle daarvolgens insulien kan toedien. As sy na ʼn verjaarsdagpartytjie toe gaan dan gaan Rosa meesal saam om haar koolhidraatinname dop te hou. “Sy kan maar ʼn kolwyntjie eet, solank ek net weet daarvan,” sê Rosa.
Cheree se etes word goed beplan en sy word voor elke ete met insulien gespuit na aanleiding van die kos wat op haar bord is.
“Die diabetes het hulle lewe goed deurmekaargekrap, maar hulle pas aan daarby en probeer positief bly – veral ter wille van hulle twee dogters (Cheree het ʼn ouer 9-jarige sussie),” sê die Swanepoels.
“My raad aan ouers is om oplettend te wees en nie moontlike tekens mis te kyk nie. Dit is nie normaal vir ʼn kind om kort-kort siek te wees en aanhoudend blaasinfeksie te kry soos in Cheree se geval nie. As jou kind skielik dorser is as gewoonlik, kla van oogsensitiwiteit, hoof- en maagpyn of moegheid, dring aan op verdere toetse soos ’n bloedglukosetoets. ʼn Ander onding is kortisoon. Moenie vir jou kind kortisoon gee as dit nie noodsaaklik is nie,” sê Pierre.
Volgens Rosa en Pierre het die spesialis vir hulle gesê ʼn virale infeksie en die gereelde gebruik van kortisoon kan ʼn sneller wees vir tipe 1 diabetes.
 (Met hierdie artikel sluit ons Diabetesmaand af. Baie dankie aan almal wat hulle stories met ons gedeel het. — Red)

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.