Klagtes oor hoë kragrekeninge

LEPHALALE — Baie inwoners kla oor die hoë elektrisiteitrekeninge en soek redes waarom die elektrisiteitsverbruik maandeliks beduidend fluktueer en/of styg. Volgens sekere inwoners het kragverbruik vanaf Januarie hierdie jaar maandeliks eksponensieel gestyg onder konstante omstan-dighede.

Sybil Niewoudt, DA raadslid vir Onverwacht, het ʼn openbare vergadering belê wat Dinsdagaand 16 April in die lapa van die munisipaliteit gehou is. Ten spyte van soveel mense wat kla, het daar betreklik min mense vir die vergadering opgedaag.

Amptenare van die munisipaliteit en SPASA was teenwoordig om vrae te beantwoord. Op die vraag waarom die kragverbruik die hoogte in skiet en hoe kragverbruik bepaal word, is gesê dat die munisipaliteit van ʼn slimmeterstelsel gebruik maak waar kragverbruik maandeliks op dieselfde tyd gemeet word en dat lesings nie uit die duim gesuig word nie. Indien jy dus wil vasstel of jou meter se lesing ooreenstem met wat op jou munisipale rekening verskyn, is jy welkom om jou meter deur die munisipaliteit te laat toets … teen ʼn fooi natuurlik.

Alle elektrisiteitsrekeninge is gekoppel aan SPASA, die maatskappy wat ook die voorafbetaalde krag hanteer en jy kan ʼn rekenaaruitdruk by hulle kry wat jou daaglikse elektrisiteitsverbruik presies aandui.

Daar is ook aangedui dat die verbruikers dit in gedagte moet hou dat die verbruikskoste op ʼn glyskaal werk. Hoe meer elektrisiteit verbruik word, hoe hoër is die tarief per eenheid.

Elektrisiteitsrekeninge wat presies op die einde van die maand betaalbaar is, skep probleme vir veral pensioenarisse wat die rekeninge nie betyds kan betaal nie en rente dan daarop gehef word. Die munisipale amptenare het aangedui dat hulle dit aan die raad sal voorlê om te kyk of daar grasie in sulke gevalle toegestaan kan word. Hulle nooi enige kragverbruiker uit om met hulle in verbinding te tree indien daar ontevredenheid is oor kragrekeninge.

Nóg ʼn groot kopseer is die feit dat huurders verhuis en geboueienaars dikwels met hemelhoë elektrisiteitsrekeninge agterlaat. Ontevrede eienaars het gevra waarom word huurders se elektrisiteit nie afgesit wanneer rekening nie betaal word nie. Hierdie belangrike kwessie sal ook aan die raad voorgelê word met die versoek van geboueienaars dat wanbetalers se krag binne 30 dae afgesny sal word.

Om die swak betalers bloot op ʼn swartlys te plaas, los nie die probleem van die geboueienaar op nie – hulle moet nog steeds hoes vir agterstallige verbruik plus rente en is nie te vinde vir dié reëling nie.

Daar is ook gevra wat die uitstaande bedrag op elektrisiteit en ander dienste is, en alhoewel ʼn presiese bedrag nie verskaf kon word nie, is aangedui dat dit in die omgewing van R268 miljoen is. Die munisipaliteit se skuldinvorderaars is hard besig om die bedrag verminder te kry. Baie dormantrekeninge is ingesluit by dié bedrag.

ʼn Opvolgvergadering vir oor twee maande is aangevra en die hoop word uitgespreek dat meer mense dit sal bywoon, aangesien dit die wisselwerking tussen verbruikers en die munisipaliteit sal verbeter. Of die mense wat vrae geopper het tydens die vergadering se antwoorde tot volle tevredenheid beantwoord was, bly steeds ʼn ope vraag. Dit sal egter interessant wees om terugvoering oor sekere sake vanaf die munisipaliteit se kant te kry.

Intussen staan die uitnodiging dat dispute met die munisipaliteit opgeneem moet word.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.