Kotie sê totsiens

LEPHALALE — Die 80-jarige Kotie Lamprecht het twee maande voor haar 40ste verjaardag Bosveld toe gekom toe sy met die bekende en legendariese Poem Lamprecht trou.

Vandag, na 41 jaar en vier maande voor haar 81ste verjaardag, verruil sy Lephalale vir Bronkhorstbaai naby Bronkhorstspruit.

Kotie sê sy het twee families, die Lamprechts en Du Plooys, in die Bosveld ryker geword en sy beskryf hulle as mense wat haar baie na aan die hart lê. Dit is ook hier waar sy wonderlike jare beleef het, en ten spyte van baie hartseer en trane, het sy ook baie vreugde geken.

Poem is in Oktober 2016 tydens ’n aanval op sy plaas vermoor en Kotie se dogter, Barbara du Plooy, is ongeveer 30 jaar gelede in die fleur van haar lewe in die Bosveld oorlede.

Met Kotie se sagte en minsame geaardheid koester sy die mooi vriendskappe wat sy oor die jare hier opgebou het en sê dat sy die omgewing met ’n swaar hart agterlaat.

Sy bedank elkeen vir hul besondere hulp, liefde en ondersteuning in die tydperk wat sy deel was van dié gemeenskap en sy mense. Kotie bedank Di Chris Nel en Hennie Hoepfner ook spesiaal vir al die gebede en ondersteuning in moeilike tye asook haar twee seuns wat hul volle gewig agter haar ingegooi het. Kotie bedank ook haar huiswerker, Bettie, van 25 jaar se ononderbroke diens en vir Amos en Paulus vir hulle hulp. Sy bedank ook die Hemelse Vader vir sy groot genade wat haar deur haar lewe tot hier gedra het.

Kotie nooi egter elkeen om vir haar by haar nuwe tuiste te gaan kuier – “my deur staan wawyd oop”.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.