Landbouman se dood laat leemte

Jan Viljoen, bekende in landboukringe in Limpopo, is onlangs op die ouderdom van 70 jaar na ʼn kort siekbed oorlede.
Henk van de Graaf, streekvoorsitter van TLU SA Noord het hulde gebring aan Viljoen wat voorheen voorsitter van dié streek was.
Viljoen was vanaf 2008 tot 2011 streekvoorsitter van TLU SA Noord asook lid van TLU SA se nasionale uitvoerende komitee en voorsitter van Noordstreek en TLU SA se komitee oor Plaaslike Regering.
Volgens Van de Graaf het hy sy pligte baie bekwaam en toegewyd uitgevoer. “Sy grootste werk in hierdie portefeulje was die betreklik onlangse deurvoering van die bedinging van ’n beter grondbelastingkoers vir die boere,” sê Van de Graaf. Hy was ook ’n kundige in mynregte en prospektering.
Viljoen het ook op plaaslike vlak diep spore getrap – hy was tot en met sy dood die voorsitter van die Thabazimbi DLU en Sentrum Boerevereninging.
“Dit is duidelik dat landbou, nie net landbou in Limpopo nie, maar landwyd, armer is met die heengaan van Viljoen. Sy kundigheid en ywer gaan ’n groot leemte laat,” sê Van de Graaf. TLU SA Noordstreek, Thabazimbi DLU en Sentrum BV betreur sy heengaan en wens sy familie alle krag en sterkte toe met hulle verlies.
Viljoen laat sy vrou, Petro, drie seuns en vyf kleinkinders agter.
Sy begrafnis is Maandag 6 November vanuit die NG Kerk Thabazimbi gehou.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.