Luilekker op MC Sinfonia

LEPHALALE — Jade du Toit (10), tans ʼn graad 5-leerder aan Laerskool Bosveld Primary, was verlede jaar 9 Junie op Mogol Pos se agterblad nadat hy ʼn Moedersdagaanlynkompetisie, “My Mom is the Best”, aangebied deur Boomerang, gewen het.
Hy moes die sin voltooi: “Ek is lief vir my ma, want …” en sy wenantwoord was: “My ma is die beste, want sy bak vir my pannekoek, sy kyk hoe ek rugby speel en fiets ry en sy sny my hare in enige styl waarvan ek hou – net sodat ek ‘cool’ kan wees. My ma is ook my pa, so ek sien myself as baie bevoorreg”.
Jade se wenprys was ʼn spesiale viernagbootreis vir vier mense op die MSC Sinfonia, ʼn luukse passasierboot. Mogol Pos het by Diane du Toit, Jade se trotse ma, gaan inloer om te hoor hoe hulle reis verloop het.
Diane het haar suster, Jeanette De La Rey en Jade sy vriend, Joshua Young, saamgenooi. Die vier van hulle het op 27 November 2017 vanaf Lanseria in Johannesburg na die King Shaka Internasionale lughawe in Durban gevlieg waarvandaan hulle verder op die MSC Sinfonia gereis het.
Diane sê dit was ʼn ongelooflike ervaring, veral Woensdag 29 November wat hulle deurgebring het op Pomene, ʼn prentjiemooi eiland in Mosambiek. Sy sê Jade en Joshua kon net nie genoeg van die seewater kry nie en hulle het letterlik die hele dag in die water baljaar. “Ek en my sus het die hele dag op die strand gelê en in die see geswem. Daar is ook verskeie swembaddens met dekstoele waar jy die hele dag kan deurbring,” sê sy.
Die vierstuks het om 08:00 op Pomene afgeklim en hulle is eers 16:00 die middag terug na die MSC Sinfonia. “Daar is van 13:00 af bootjies wat heen en weer tussen die Sinfonia en Pomena ry en jy kan self besluit wanneer jy genoeg van dié idilliese eiland gehad het,” sê sy. ʼn Buffet-middagete kon vanaf 12:00 geniet word – vir hulle natuurlik heeltemal gratis.
Daar word deurgaans verskeie aktiwiteite op die boot aangebied, maar “een van die grootste aktiwiteite is om 24 uur per dag te eet,” spot Diane.
Die seuns was baie bedrywig met allerlei aktiwiteite en om nuwe dinge te leer – hulle het tot by ʼn Italiaanse sjef geleer hoe om gnocchi te maak. Die kinders op die boot het geoefen vir ʼn opvoering wat hulle voor die einde van die vier dae gehou het en hulle moes boonop hulle eie klere maak vir die opvoering.
Met hulle voete nou weer stewig op Bosveldgrond is die vier luilekker dae ʼn gawe herinnering om die nuwe jaar mee te begin en ʼn ervaring wat hulle altyd sal koester.
Diane en Jade bedank Boomerang en alle betrokkenes wat hierdie onvergeetlike ondervinding vir hulle moontlik gemaak het.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.