Man skoonveld ná botsing

LEPHALALE — Jannie Powell (30), sy verloofde Kristen (21) en hulle hondjie, Dora, was Saterdagaand 21 April omstreeks 21:00 op pad van Onverwacht na Lephalale dorp toe die bestuurder van ʼn swart Audi A3 met registrasienommer CS 64GZ GP van agter af in hulle vasgery het.

Dié bestuurslisensie is op die ongelukstoneel gevind. Die persoon op die foto kan moontlik behulpsaam wees in die polisieondersoek

Volgens Powell het hulle stilgestaan by die rooi verkeerslig by die Rupertstraat en Nelson Mandelaweg-kruising toe hy in sy truspieël sien dat ʼn voertuig met “ʼn hengse spoed” van agter af op pad is en hy sê dit was redelik duidelik dat die persoon nie van plan was om te stop nie. Powell het vorentoe begin ry in die hoop dat hy uit die pad van die Audi kon kom, maar die volgende oomblik het hy die slag gehoor. Die bestuurder van die Audi het na bewering volspoed van agter in Powell se splinternuwe Datsun Go gery en die voertuig is afgeskryf.

Powell het die voertuig enkele weke gelede gekoop.

Jannie Powell se Datsun Go is afgeskryf

Powell sê die ambulans was vinnig op die toneel en hulle is na Mediclinic Lephalale vervoer om die omvang van hulle beserings vas te stel. Hulle het egter net ligte beserings opgedoen.

Volgens hom het die bestuurder van die Audi waarskynlik die hasepad gekies na die botsing, want hy was nêrens te vinde nie. ʼn Bestuurslisensiekaart is egter op die toneel gevind. Teen druktyd was die bestuurder van die voertuig steeds soek.

Intussen het Powell Maandagoggend na die polisiestasie gegaan en toe hy die ongeluksverslag sien was baie van die inligting wat deur die ondersoekbeampte op die toneel ingevul is foutief. Sy voertuig is onder meer aangedui as ʼn Fiat. Die nommers van die onderskeie voertuie is ook omgeruil. Hy was Maandag by die stasie om die kwessie onder die polisie se aandag te bring en dit is na bewering reggestel. Intussen het Mogol Pos verneem dat die konstabel wat die ongeluksverslag ingevul het eers weer Donderdag 29 April sou werk en dat geen saak van roekelose en nalatige bestuur geopen is nie.

By navraag het adjudant-offisier Frans Mokoena, woordvoerder van Lephalale Kluster, gesê dat daar eers ʼn saak geopen kan word as dit duidelik is wie die ongeluk veroorsaak het en in dié geval weet hulle nog nie wie dit is nie, want dit is onduidelik wie die Audi bestuur het. Ao Mokoena sê wanneer ʼn ongeluksverslag ingedien word by die hof besluit die hof wie as ondersoekbeampte aangestel word. In dié geval is daar nog nie ʼn dossier geopen nie.

Enigiemand met inligting oor bogenoemde voorval kan adjudant-offisier Frans Mokoena skakel by 073 429 8959.

Dora (Jannie en Kristen se hond) was ook skoonveld na die voorval, maar Lauren Hart van die DBV Lephalale het onverpoos bly soek en haar Dinsdagaand 24 April opgespoor. Jannie en Kristen bedank Lauren vir al haar moeite en toegewydheid om Dora te vind.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.