Manne La’t Wiel in Lephalale

LEPHALALE —Die bekende Afrikaanse motorprogram, La’t Wiel, die oudste motorprogram in Suid-Afrika wat op kykNET uitgesaai word, het onlangs ter voorbereiding van hulle tweede reeks vir 2019 ’n lang draai in Lephalale gemaak.

“Ons is eenvoudig mal oor die Bosveld en dit verg nie veel om ons stadsjapies in die bos te kry nie,” sê Hannes Visser, een van die program se vervaardigers en aanbieders.

“Ons het vroeër vanjaar ’n draai gemaak by die eerste Veldskoenfees wat by Molalatau Lodge en Zambesiaca Safaris aangebied was en sommer net daar besluit om weer Lephalale toe te gaan – dié keer met ’n string kameras en motors,” het Visser verder gesê.

La’t Wiel, wat vanaf 2004 elke jaar uitgesaai word, se nuutste seisoen het so pas weer op kykNET begin draai en die meeste van die nuwe reeks se 13 episodes is reeds verfilm.

“Lephalale, en meer spesifiek die pragtige natuurskoon van die Mogolrivier en die Bosveld speel ’n groot rol in hierdie seisoen,” sê Waldo van der Waal, mede-aanbieder en vervaardiger.

“Die area met sy grondpaaie, berge en die rivier het die perfekte agtergrond gebied vir ons insetsels oor Suid-Afrika se vlagskip 4X4-bakkies,” het hy bygevoeg.

Tydens die filmsessie het die span drie van Suid-Afrika se duurste bakkies ordentlik deur hulle passies gesit. Omdat elke bakkie redelik verskil van die ander in presies wat dit aan kopers bied was die doelwit nie om die bakkies direk teen mekaar te vergelyk nie, maar eerder om kykers deeglik in te lig wat dit is wat elke bakkie spesiaal maak sodat hulle dan self hulle gunsteling kan kies.

Watter bakkie was die beste tussen die Toyota, Ford en Isuzu?
 “Net soos die bakkies verskil, mense se smaak en voorkeure – wat vir een ou mooi is, gaan nie noodwendig vir die volgende ou geld nie.

“Maar dit is die lekker ding van bakkies. Mens kan om die vuur sit en ure lank daaroor stry. Dit is presies wat ons onder die groot bome by Zambesiaca Safaris gedoen het tydens ons besoek aan Lephalale.

“Mense moet maar self na die program kyk om te sien wat ons opinies was en selfs dan gaan die helfte met ons saamstem en die ander helfte nie,” het Visser bygevoeg.

Buiten Visser en Van der Waal het ’n ou bekende ook ’n draai in Lephalale gemaak.

Francois Rautenbach was bekend as Tiaan in 7de Laan voordat hy die rolle van Hansie Cronjé en Angus Buchan vertolk het in films soos Hansie en Faith like Potatoes.

Rautenbach het daarna in Amerika gewoon voordat hy spesiaal Lephalale toe gereis het vir die verfilming van La’t Wiel se bakkie-toets.

“Ek het jare laas soveel pret gehad en ek het van voor af besef hoe goed die Bosveld is vir ֹ’n man se siel,” het Rautenbach een aand tydens die filmwerk om die kampvuur gesê.

La’t Wiel se bakkie-toets word in drie dele uitgesaai. Die eerste insetsel was Dinsdag 8 Oktober om 17:30.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.