Meesterlike Opperman by Weskerk

LEPHALALE — Frank Opperman het nie veel bekendstelling nodig nie. Dié bekende en geliefde Suid-Afrikaanse akteur, maar ook talentvolle sanger, liedjieskrywer, stemkunstenaar en verhoogpersoonlikheid is Vrydagaand 11 Oktober by die NG Kerk Ellisras-Wes op die verhoog verwelkom.

Die 59-jarige Opperman het die rol van meneer Barry Swart, skoolhoof van Hoërskool Hans Oosthuizen, meesterlik vertolk. Hy het die gehoor telkens laat skaterlag met sy splinternuwe komiese eenmanvertoning, “Donkie”.

Opperman het die gehoor ’n kykie gegee op die amper daaglikse lewe van ’n skoolhoof.

Alles loop verkeerd in Barry Swart se lewe. Almal wil met hom praat, hy moet almal se probleme uitsorteer en boonop die kinders dissiplineer, maar dan gebeur dit dat die ouers en leerders gelukkig is, maar die onderwysers is ongelukkig. Hy dra ook swaar aan sy verantwoordelikheid vir die sportgebeure en die pak slae wanneer die spanne nie na wense presteer nie.

Genoeg was toe net genoeg en Swart besluit om te bedank – tot die Maandagoggend tydens die saalopening wanneer hy besluit om sy kant van die saak te stel…

Dit was Vrydagaand Opperman se 65ste vertoning van “Donkie”.

Gaste kon later smul aan kerrie-en-rys en jafels en die koffiekroeg het groot aftrek gekry.

Karin Botha, sekretaresse by die NG Kerk Ellisras-Wes en een van die hooforganiseerders, bedank elke inwoner asook mense van elders wat kaartjies gekoop het om die vertoning by te woon.

“Baie dankie ook aan elke persoon wat op een of ander manier gehelp het om van hierdie aand ’n reuse sukses te maak,” sluit sy af.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.