MKWAP-2 en grondeienaars

LEPHALALE — Wat sal dit vir grondeienaars in die omgewing van MKWAP-2 (fase 2 van die voorgestelde Mokolo en Krokodilrivier Wes Wateraanvullingsprojek) beteken indien goedkeuring verleen word om voort te gaan met MKWAP-2?

Dit is tydens ’n openbare vergadering by Mogolklub op Donderdag 11 Oktober bevestig dat ’n 40 m-wye konstruksieserwituut op plase langs die pyplyn van krag sal wees tydens konstruksie van die voorgestelde MKWAP-2. Hierdie strook sal van alle plantegroei skoongemaak word. Die doel van die vergadering was om die Konsep Omgewingsevalueringsverslag aan die publiek bekend te stel.

Daar word gepoog om bestaande paaie, spoor- of kraglyne te volg en in gevalle waar dit nie moontlik is nie, om plaasgrense te volg. Dié 40 m-wye konstruksieserwituut sal gedurende konstruksie soos ’n “vuurbreek” lyk. Daar word beplan om langs die grenslyne oop te stoot waarna daar nog ’n heining aangebring sal word om die plaas te skei van die konstruksiegebied.

Na afloop van konstruksie en rehabilitasie sal die serwituut-area vernou word tot ’n permanente serwituutwydte van 25 m.

Daar is nog met geen grondeienaar onderhandel oor vergoeding of detail besonderhede nie. Dit sal ’n aanvang neem na omgewingsgoedkeuring moontlik verleen is.

Daar sal begrip getoon word vir verlies van boorgate en permanente strukture en die voorwaardes sal bespreek word.

’n Industriële ekoloog van die Departement van Ekonomiese Ontwikkeling het die vergadering verseker dat alles in ag geneem sal word sodat die omgewing so min as moontlik skade ly.

’n Impakstudie is gedoen om vas te stel hoe die verskillende aktiwiteite landbou kan beïnvloed.

Die area onder bespreking behels ongeveer 38 hektaar lande onder besproeiing, 2 006 hektaar weiveld en ongeveer vier boorgate (Alternatiewe kan deur die boere voorgestel word, om die tydelike verlies te ondervang.) Na afhandeling van konstruksie sal die gerehabiliteerde weiveld weer gebruik kan word.

Ander aspekte wat in ag geneem moet word is onder andere geraas, veldvure, sekuriteit, diefstal en vandalisme. Die omgewingsprogram sluit spesiale maatreëls in waarin die kontrakteur moet voldoen om die invloede aan te spreek.

Wildlewe assessering

Ben Orban, ’n ekoloog, het gepraat oor watter impak die konstruksie van MKWAP-2 op die wildlewe kan hê.

“Daar is ’n groot oorvleueling tussen die areas ter sprake en die verlies aan bronne sowel as habitatverbrokkeling moet bespreek word. Wat hier ter sprake is, is meesal habitatverlies.

“Daar gaan ’n 40 m gebied skoongemaak word. Daardie gras en bome groei nie weer volledig terug nie. Die bogrond word wel eenkant gehou en wanneer die projek afgehandel is, word dit teruggeplaas en met grassade beplant. Daar gaan nie weer bome wees nie. Die habitat sal dus verander na grasveld wat ook voordeliig kan wees.

“Met die afwesigheid van die tipiese Bosveld-bos habitat sal ’n aanpassing gedoen moet word in terme van fauna.

“Die grondeienaar gaan moontlik moet kyk hoeveel diere daar op die plaas is, hoeveel bronne tydelik verloor is en watter aanpassings gemaak moet word. Indien daar tekorte is gaan die diere moontlik gevoer moet word,” het Orban verduidelik.

Diversiteit gaan aangepas moet word, maar Orban sê diere is gelukkig baie aanpasbaar.

Stel ’n eis in vir verlies

‘n Moontlike verlies aan inkomste is nie uitgesluit nie, veral in die jagbedryf en ekotoerisme.

Orban meen veral die ekotoerisme kan boet (met die geraas gaan kliënte moontlik nie terugkeer nie). Hy moedig betrokkenes aan om ’n eis in te stel vir verliese gely. Bewese eise sal oorweeg word.

“Dit is nie altyd moontlik om alle areas wat hierdeur geraak kan word, te vermy nie, maar ons probeer om die impak op die boer so laag as moontlik te hou.”

Geraas

“Diere kan verskillend reageer op geraas en met langdurige blootstelling sal hulle wel gewoond raak daaraan,” sê Orban.

“Diere hardloop selde meer as 100 m as hulle skrik, dus kan dit ’n impak hê op wildplase waar die kampe nie baie groot is nie. Hy stel voor dat die drade ten minste 100 m weg van die geraas af opgerig word. Indien kampe geskuif moet word sal die boer vergoed word daarvoor.

“Boere moet vooraf in kennis gestel word in die geval waar plofstof gebruik word.”

Vuur

Die 40 m-wye strook is ’n baie effektiewe “vuurbreek”, maar almal moet met mekaar in verbinding wees sodat ’n onbeplande vuur dadelik aangemeld en geblus kan word.

Bome

Daar is uit die vergadering voorgestel van die bome wat uitgehaal word vir die 40 m serwituut, weer moontlik op ander plekke hervestig kan word en nie vernietig hoef te word nie. Dit kan ook as brandhout aangewend word.

Daar is ook bespreek dat daar hoofsaaklik gebruik gemaak gaan word van plaaslike arbeid sodat almal in die aande kan huiswaarts keer. Konstruksiekampe en kontrakwerkers wat van elders af die dorp binnestroom sal dus die uitsondering wees.

Henning het die vergadering afgesluit en gesê dat meeste van die nadelige effekte wel aangespreek kan word.

Die publiek het nou tot 29 Oktober tyd om kommentaar op die konsepverslag te lewer.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.