Mooi musiek, plekke inspireer haar

LEPHALALE — Christine Daschner Kruger se lewenspad in Ellisras het in 1974 begin toe sy in standerd agt (graad tien) by Hoërskool Ellisras ingeskryf is.

Sy is ’n geliefde gesig by Ellisras Bou- & Hardeware en alhoewel dit vir haar soos gister voel, was sy die afgelope 39 jaar deel van die Ellisras Bou- & Hardeware-familie. Sy het in November 1981 by hulle aangesluit.

Alle goeie dinge kom egter ook tot ’n einde en dit is amper tyd vir Mielies en Christine Kruger om met ’n nuwe era in hulle lewe te begin en Ellisras Bou- & Hardeware vaarwel te roep.

Christine het ’n ander talent waaraan sy nou meer aandag kan gee – haar skilderkuns.

Sy het op skool al begin potloodsketse doen, maar het tien jaar gelede met kleur begin werk. Toe sy op skool was, was kuns as skoolvak nie ’n opsie nie, maar sy het self haar talent uitgebrei en eers by Stella Olivier in Pretoria haar potloodstudies opgeknap en later by Delene Lambert klas gehad.

Sy het sover moontlik werkswinkels van verskillende kunstenaars bygewoon. “Al is dit nie altyd jou styl van verf nie, leer mens altyd iets wat jy kan gebruik,” sê sy.
 Op die vraag of haar kunstalent in haar gene is, sê sy haar ouma Christine Mulder kon die mooiste troukoeke bak en bedbaadjies verf. Haar ma het juis een van dié geverfde baadjies gedra toe Christine gebore is.

“Ek dink sy was baie kunstig, maar sy het nie noodwendig die tyd en hulpbronne gehad om dit te beoefen nie. Sy het agt kinders gehad en dit het haar sekerlik besig genoeg gehou!” vertel Christine.

Met Christine en Mielies Kruger se aftrede binnekort ’n werklikheid is dit nou die perfekte geleentheid om meer te skilder.

“Ek het net in die aande geskilder, wanneer die lig nie eintlik ideaal is nie of oor naweke. “Dit is nogal sleg om op te hou skilder as jy opgewonde is om iets klaar te maak”.  

Christine het vir haar ’n hoekie in hulle TV-kamer ingerig waar sy mooi musiek kan luister en kan verf. Mooi goed, mooi plekke en rustige dinge inspireer haar.

Behalwe dat sy nou meer tyd gaan hê om baie te skilder, is die een ding wat sy spesifiek wil skilder ’n nagmaalbediening met al die ouderlinge en diakens – “die legendes in Ellisras”.

Christine werk tans hoofsaaklik met olieverf en geniet gesigstudies die meeste. “Die lewe in ’n gesig en die oë is altyd ’n uitdaging”.

Sy raak in ’n wêreld van haar eie wanneer sy skilder en besef eers van tyd as sy honger of dors raak. “Ek was besig met ’n potloodskets net na een van my kinders se geboorte en toe Mielies in die kamer kom en vir my vra of ek nie my eie baba hoor huil nie, het ek besef dit is te gevaarlik. Ek het alles opgepak en besluit dit is vir eendag … en daai eendag is nou”.

Watter raad het jy vir mense wat ook wil begin skilder?
“Begin met babatreë. Begin met potloodsketse om jou waardes te kan bepaal. Jou waardes is belangrik vir die res om te kan volg. As jy groot begin verloor jy belangrike beginsels. Wees geduldig – goeie kuns neem tyd,” sê sy.

“Ons gaan die Ellisras-gemeenskap se kuiers en inloer vreeslik mis, maar gelukkig verloor ons mekaar nie. Ons moet mekaar waardeer en koester terwyl ons nog kan. Ellisras Bou- & Hardeware was goed vir ons en met die jare word ’n mens soos familie”.

Christine sluit af deur te sê: “Nou weet julle meer van my as wat ek van myself weet. Ek praat moeilik oor myself. Dankie vir die geleentheid – dit help ons ook met ’n goeie afsluiting van ’n goeie era in ons lewe”.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.