Morsige huurders

LEPHALALE — ʼn Jarelange inwoner van Lephalale wat bekostigbare behuising aan die gemeenskap verskaf, het Mogol Pos die afgelope week geskakel om sy misnoë uit te spreek oor die toestand waarin huurders een van sy eiendomme gelos het nadat hulle nie meer huur kon betaal nie.

Volgens die verhuurder is hy sat daarvoor dat mense steen en been kla daaroor dat behuising so duur is in Lephalale en dat die huur nie betaal kan word nie. Hy sê hierdie is nie die eerste keer dat hy so ’n stel met huurders aftrap nie, maar hopelik die laaste keer.

Volgens hom het hy vir die man werk aangebied nadat hulle hom vertel het die man het nie werk nie. Hy het egter gesien hoe die mense daagliks met ʼn sespak-bier by die huis kom en albei volwassenes rook. Hy vermoed ook dat daar dwelms in die huis gebruik is as gevolg van verskeie sigbare leidrade.

Nadat die gesin (ma, pa en ʼn jong kind) vir die soveelste keer nie hulle huur kon betaal nie omdat hulle “swaar kry” (hy beweer dat mense op gereelde basis vir hulle kos en allerlei benodigdhede by die hek afgelaai het), het hy hulle versoek om ander blyplek te soek. Die toneel wat hom begroet het nadat hulle uitgetrek het is ondenkbaar. Stukke kos, klere, sigaretstompies, afgesnyde plastiekbottels en selfs ontlasting is oor die vloer gesaai. Die oond is onherkenbaar vuil en die mure is besmeer.

Arona Rossouw, eienaar van @Sold Eiendomme in Lephalale, sê die huurkontrak tussen die verhuurder en die huurder moet bepaal wat die volgende stappe sou wees indien iemand ʼn eiendom in so ʼn toestand laat.

@Sold Eiendomme se huurkontrakte lees duidelik dat die eiendom skoon en netjies oorhandig moet word na die huurtydperk en daar word uittrekinspeksie gedoen saam met die huurder waarop die sleutels oorhandig word en foutelys vir die herstel/skoonmaak/vervang geteken word.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.