My kind is ʼn diabeet — Erisa se storie

Erisa du Toit

LEPHALALE — Erisa du Toit (12) was net tien jaar oud toe sy in Februarie 2015 met tipe 1-diabetes gediagnoseer is. Vanjaar is sy verkies tot hoofdogter van Hardekool Akademie, sy neem deel aan sport, redenaars, skaak, kultuurfeeste en sy is deel van die Top 10- akademiese presteerders in haar graad.
Haar ma, Coret, het met Mogol Pos gesels oor watter impak dit op hulle lewe het.
Coret sê sy het dadelik gevoel iets is verkeerd toe Erisa in Februarie 2015 een nag opstaan om badkamer toe te gaan, want dit was heeltemal teen haar aard. Sy het ook baie water gedrink, maar Coret het dit aan die uitsonderlike hitte toegeskryf.
“ʼn Stemmetjie in my binneste het my onrustig gemaak en ek het haar dopgehou. Sy het daardie week elke nag opgestaan om badkamer toe te gaan. Ek het gaan google oor ‘excessive thirst’ en die eerste ding wat op die skerm verskyn is ‘diabetes’”.
Die Saterdag het my skoonpa vir my ʼn bloedglukosetoetser gebring en haar bloedglukosevlakke was 22. Ek het ons huisdokter geskakel en hy het bevestig dat dit te hoog is. Ons is na Mediclinic Lephalale en toe toets haar suikervlak 31! 299 ml soutwater (saline) is binneaars toegedien totdat haar suiker geval het na 13,” sê Coret.
Erisa is verwys na dr Van Dyk by Little Company of Mary Hospitaal in Pretoria waar sy insulien ontvang het, gestabiliseer is en die dokter verduidelik het wat sy voortaan moet doen. Coret sê sy is drie keer deur personeel in die hospitaal ingespuit en sederdien doen sy dit self.
Daar is geen tipe 1-diabete in hulle familie nie.
By navraag het die dokters vir Coret gesê daar is twee kindersiektes wat ʼn merker kan maak op ʼn kind se immuunsisteem – waterpokkies en hand-, voet- en mondsiekte. Erisa het ongeveer vier jaar voor die diagnose baie ligte waterpokkies gehad.
Tipe 1-diabetes beteken jou eie immuunstelsel val die pankreas aan sodat die pankreas later glad nie meer insulien vervaardig nie. In Erisa se geval het sy nog 20% betaselle in haar pankreas gehad – waarskynlik omdat Coret so vinnig gereageer het. Dit is die rede waarom sy agt maande in remissie was.
Erisa ontvang daagliks 24 eenhede langwerkende insulien wat sy elke aand 20:00 moet spuit en dan voor elke ete wat koolhidrate bevat, spuit sy die kortwerkende insulien wat vir twee ure aktief in haar liggaam is. Dit is ʼn groot verantwoordelikheid vir ʼn 12-jarige kind om seker te maak dat sy haarself daagliks die regte dosis spuit, maar sy doen dit so tussen drie en vier keer daagliks op haar bobene of maag,” sê Coret.
Hulle sien dr Van Dyk elke ses maande om haar vordering te monitor en haar HBA1C telling te toets. Dit is om te bepaal hoe haar glukosevlakke die afgelope drie maande was.
Coret sê die hele proses waardeur hulle gegaan het en steeds elke dag gaan, het hulle geleer dat ongeag wat die dag inhou, moet nooit, ooit moed verloor nie. “Bly net nederig op jou knieë en sien altyd God se lig in alles rondom jou. Vir ons meisiekind glo ons in ‘n wonderwerk van genesing, maar op God se tyd en volgens Sy wil,” sê Coret.
Haar boodskap aan ander ouers is dat hulle die tekens moet ken. Vergewis jouself van watter simptome alles op diabetes kan dui,” sê sy.
“Ek wil graag ‘n boodskap oordra aan almal wat diabetes het.
Moenie dat dit jou onderkry nie! Diabetes is oorwinbaar deur die Here se krag en genade, jy moet net glo. Dit maak jou nie anders nie, God het ons almal baie lief en Hy sal jou nie verlaat nie. Al voel dit of daar geen uitweg is nie, onthou daar is altyd lig aan die einde van die tonnel. Ek het net diabetes, diabetes het my nie,” het Erisa in ʼn spesiale boodskap met Mogol Pos gedeel.
Let wel: Bloedsuikervlakke tussen 4 en 10 is normaal vir tipe 1-diabete.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.