My kind is ’n diabeet — JF se storie

JF Cronje

LEPHALALE — Wêreld Diabetedag (WDD) wat in 1991 ontstaan het word elke jaar op 14 November gehou. Op dié dag word daar opnuut bewustheid geskep oor diabetes en wat dit beteken om daagliks daarmee saam te leef.
Mogol Pos het met Stephnie Cronjé gesels – ʼn ma van Lephalale wat elke dag met die uitdaging leef dat haar kind ʼn tipe 1-diabeet is. Daar is geen geskiedenis van diabetes in hulle familie nie.
Stephnie se driejarige seun, Jan Frederick (JF), was net een jaar en vier maande oud toe tipe 1-diabetes by hom gediagnoseer is.
“JF het pas begin loop op daardie stadium, so ons het aanvanklik die skielike gewigsverlies daaraan toegeskryf dat hy meer beweeg,” sê Stephnie. Sy sê alhoewel JF ook meer water begin drink het, het hulle gedink dit is omdat dit so warm in Lephalale is.
JF was die paar maande voor sy diagnose kort-kort siek met oorinfeksie. Hy is later met longontsteking in Mediclinic Lephalale opgeneem.
“Wanneer iemand opgeneem word, vereis die opnamevorm by die hospitaal dat ʼn pasiënt se bloeddruk, bloedsuiker, ens gemeet word voor opname. Toe JF se bloedglukosevlakke getoets word, was dit 17 (ʼn gesonde persoon se bloedglukosevlakke toets gewoonlik tussen vier en ses).
Hy is dadelik oorgeplaas na The Little Company of Mary Hospitaal in Groenkloof, Pretoria, waar hy deur dr JC van Dyk, ʼn pediatriese endokrinoloog, behandel is.
Hy was agt dae gehospitaliseer en insulien is in sy boud toegedien.
Die dokters het vir Stephnie en Jan, haar man, gesê die tipe 1-diabetes waarmee JF gediagnoseer is, word gesien as ʼn outo-immuunsindroom. Sy eie immuunsisteem verniel en vernietig die insulienproduserende selle in sy pankreas (die pankreas produseer die hormoon insulien wat bloedglukosevlakke reguleer).
“Ons moes toe besluit hoe ons die situasie so ‘normaal’ as moontlik kan hanteer en ons het daarteen besluit om hom elke dag in te spuit. Dit is net vir ons te wreed,” sê Stephnie.
Hulle het besluit om ʼn “insulienpomp” aan te skaf.
Die pomp, MiniMed se 640G insulienpomp, was vir hulle die beste opsie, want dit bied baie goeie beskerming en die hoeveelheid insulien wat deur middel van dié pomp vrygestel word, kan aangepas word na gelang van die diabeet se behoeftes.
Die pypie waarmee die insulien vervoer word, word deur middel van ʼn naald in sy boud ingeskiet en as die naald verwyder word bly ʼn 1 cm-pypie agter soos ʼn “drip” in sy boud.
“Sy bloedglukosevlakke word elke twee ure getoets en dit wissel daagliks tussen 33 en 2” sê sy.
Die bloedglukosevlakke word gemeet deur middel van SmartGuard®, wat ʼn sensor het wat jou waarsku wanneer die diabeet se bloedglukosevlakke te laag gaan daal (en die persoon in ʼn hipoglisemiese koma kan gaan) en insulientoediening word outomaties gestaak. Wanneer die vlakke weer herstel sal die SmartGuard® outomaties weer voortgaan met insulientoediening.
Stephnie sê die “insulienpomp” spuit elke uur insulien, maar die geheim of uitdaging is om JF se voedselinname baie noukeurig te monitor. Veral koolhidrate het ʼn groot uitwerking op sy insulienvlakke.
Dit is steeds vir hulle gesin ʼn groot vraag waarom JF op so ʼn jong ouderdom ʼn diabeet geword het. Stephnie sê volgens dokters kon ʼn baie hoë koors (41˚) toe hy sewe maande oud was, dit dalk geaktiveer het.
ʼn Dieetkundige werk saam met hulle en hy kan alles eet wat die ander kinders eet, hy moet net daarna die regte eenhede spuit.
“Die hele situasie is maar soos ʼn wipplank – as die bloedsuikervlakke te hoog is kan dit orgaanskade veroorsaak en as dit te laag is, kan hy in ʼn hipoglisemiese koma gaan en dan kan dit ook lei tot orgaanskade” sê Stephnie.
JF lei ʼn normale lewe soos enige ander kind, hy is in ʼn speelgroep, hou saam partytjie, speel seuntjiespeletjies.
Of dit toeval is of bestiering – JF se “juffie” by sy speelgroep, Huppelkind, is ook die ouer van ʼn diabeet – sy weet dus presies waarna om op te let en wanneer om insulien te spuit.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.