’n Boek uit die pen van Oud-Ellisrasser — Rozaan de Wet

Rozaan se debuutroman, Uit die hart van ’n vrou, is in September 2019 deur Lapa uitgegee.
 Die boek vertel die storie van twee vriendinne wat mekaar tydens hul moeë huwelike ondersteun en die vreugde en krag van susterskap ontdek.

Claire se man is ’n alkoholis en hoewel sy lief is vir hom, beproef sy erge afhanklikheid en ontkenning van die probleem haar psige tot breekpunt toe. Sy besluit om hom te verlaat om haarself te vind. Sy drankmisbruik het ’n afdraai in hul huweliksreis gemaak waarvoor sy nie voorbereid was nie. ’n Mens se uithouvermoë het ’n perk, of het dit?

Wanda se man is ’n volslae narsis en hy is net op homself gerig. Daarbenewens maak sy woede-buie dat sy hom vrees. Hoewel Sephus sy goeie punte het en hy goed vir haar sorg, het die skaal gevaarlik begin swaai. Sy het ook by ’n kruispad gekom en moet die belangrikste besluit van haar lewe maak.

Die verhaal bied hoop aan vroue wat hulself met die karakters kan vereenselwig. Hoewel die tema neerdrukkend is, word die verhaal met deernis en humor uitgebeeld. Volgens die skrywer was dit uitputtend om die navorsing te doen en op die karakters toe te pas, maar vrouemishandeling op velerlei vlakke, vind baie meer plaas as wat mense besef.

Rozaan is besig met ’n volgende manuskrip waarvan die tema heelwat ligter is. Sy het altyd gehou van skryf en het op skool reeds verhaaltjies in die Môrelig en Jongspan gepubliseer.

Sy was mal oor Afrikaans en Duits en het klas by Truiki Stander by Hoërskool Ellisras gekry.

Rozaan het op ’n plaas buite Ellisras grootgeword waar die Mogol- en Tambotierivier inmekaar vloei. Dit was ook die sneller vir haar kortverhaal, Lalele se prooi, wat in die bundel, Croyez Stories, verskyn het.

Rozaan se ouers, Philip en Anna, het die hotel op Ellisras gehad en hulle het feitlik elke Sondagmiddag daar geëet. Sy was lief vir perdry en het soms die vyf myl dorp toe gery en eers ’n koeldrank op die hotel se stoep gaan drink. Daardie jare was Ellisras niks meer as ’n gehuggie nie. Een kafee en een robot voor die laerskool waar hulle onder die boom vir hulle ouers gewag het om gehaal te word.

Rozaan was ’n gelukkige kind en het haar soos baie ander tot boeke gewend wanneer die lewe as plaaskind te klein geword het. Sy het aan ’n boekklub behoort en elke maand, wanneer die rooi spoorwegbus die pakkie by die poskantoor kom aflewer het, was sy met vreugde vervul en kon haarself in ’n ander lewe verplaas. Hierdie blydskap ervaar sy steeds wanneer sy in ’n boekwinkel kom, want stories het nog dieselfde magiese bekoring vir haar.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.