ʼn Bonus vir boekliefhebbers

Sandi is Vrydag 26 Julie by Mogol Pos se kantore vir ʼn Boekedag, waar sy ook met Ma’s en kinders gaan gesels oor die wonderwêreld van boeke

LEPHALALE — Sandi Bothma, skrywer van die jeugboek, “Spelonk”, woon nou wel in die bose stad Johannesburg, maar sy het ʼn sagte plekkie vir die Bosveld. “My Bosveldherinneringe speel af in Ellisras,” sê sy.

Mogol Pos se paaie het met dié van Sandi gekruis tydens die beplanning van ʼn Boekedag by Mogol Pos se kantore op Vrydag 26 Julie 2019.

Sandi het aangedui dat sy belangstel om dit by te woon en om dan sommer haar boek aan die Bosvelders bekend te stel. ʼn Bonus vir boekliefhebbers …

Sandi sê sy hoop Spelonk is die eerste boek van vele. Siende dat sy self ʼn avonturier is en ʼn paar stories het om oor te vertel, het sy in 2018 vir ʼn aanlynkursus ingeskryf oor hoe om ʼn jeugboek te skryf. “Dit het maar stoei-stoei gegaan met die sinopsis, maar toe ek eers begin skryf, toe rol die storie op die bladsye uit. Dit was baie opwindend om die storie en karakters lewe te gee. Toe kommandeer ek ʼn skoolvriendin van my, Michelle Erwee, op om die storie met haar pragtige illustrasies uit te beeld,” vertel sy.

Spelonk is ’n jeugboek vir jong lesers tussen 8 en 14 jaar, maar Sandi sê Oumas en Oupas en Ma’ en Pa’s en enigiemand wat hou van avontuur kan dit ook lees.

“Die boek is eintlik ʼn kinderboek vir volwassenes, want dit bring menige kleintyd-herinnering terug,” vertel Sandi met ʼn vonkel in die oog.

Spelonk is ʼn leersame verhaal van twee pittige stadsjapies wat vir die vakansie op die plaas kuier. Hulle het baie pret en kom een middag op ʼn geheime grot af … en die avontuur begin.

“Dis nogal vreesaanjaend om jou nek so uit te steek deur ʼn boek te skryf, maar Spelonk was vir my ’n wonderlike ondervinding. Ek is tans besig om met idees te speel vir ʼn opvolgstorie.

“Boeke maak vir kinders soveel wonderwêrelde oop. Ouers wat moeite doen om ’n liefde vir lees by hul kinders te kweek, sal vir die res van hul lewe die vrugte daarvan pluk,” sluit sy af.

Om vir Sandi te ontmoet en boonop ʼn middag te midde van die wonder van boeke deur te bring, dagboek nou reeds Vrydag 26 Julie vanaf 13:00 – 16:30.
 Meer besonderhede oor Mogol Pos se Boekedag sal later bekendgemaak word. Skakel Leoni Kruger by 073 620 4731vir meer inligting.

(Sandi se ouers, Faan en Monica Bothma, boer naby Beska en haar suster en swaer Jan en Stephani du Preez boer teen die Palalarivier. Sy het ook jare gelede haar vlieglisensie by Gerhard Kleynhans van Indigo gedoen. Sy het ook ʼn klomp niggies en nefies wat in Ellisras grootgeword het. Haar verbintenis met die Bosveld is dus onmiskenbaar – Red)  

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.