’n Liplekker aand

LEPHALALE — “Danksy twee Hollandse resepte en ’n goeie skeut verwarring is goue, stroop-deurdrenkte deegvlegsels deel van ons koskultuur”. (Landbou Boerekos, 29 September 2017.)

Koeksisters, ’n gunsteling van baie Suid-Afrikaners, het deel uitgemaak van die Skemer VLU-dames se vergadering Dinsdagaand 11 Februarie. Die dames was bevoorreg dat Marie Barkhuizen die tak besoek en hulle touwys gemaak het hoe om dié lekkerny te maak. Daar was gerol, gesny, gevleg, gebak en natuurlik geproe.

Volgens die Landbou Boerekos moet gebakte koeksisters wat gevries word bedek word, maar as dit in die yskas gehou word moet dit oop wees.

Koeksisters het in die 17e eeu aan die Kaap ontstaan. Twee Hollandse resepte – dié vir oliekoek (oliebolle) asook dié vir krullers (wat uit ’n pastadeeg berei en gedraai is) – is vermeng. Afrikanervroue het later die resep vir Koeksisters by die Kaapse slawe geërf en dit is vandag nog ’n kuns in eie reg.

Die Skemertak se volgende vergadering word beplan vir 3 Maart by Hippostraat 3. Skakel Trudie Bronkhorst, takvoorsitter, by 079 040 3044 vir meer inligting of navrae.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.