’n Vennootskap wat werk

LEPHALALE — ʼn Landelike veiligheidsvergadering in samewerking met Lephalale polisieklusterbevelvoerder, brigadier John Masia, Lephalale polisiestasie-bevelvoerder, kolonel Daniel Ramakgoakgoa en sewe van die agt klusterbevelvoerders is Woensdag 17 April by Mogolklub gehou. Hennie van Deventer het die vergadering gelei.

Die kwessie van honde wat by die grensposte ontplooi moet word, is deur brigadier Masia bespreek. Hy het gesê daar is met die bevelvoerders gepraat en hulle het aangedui dat daar nie nou oor die kwessie besluit kan word nie en dat hulle dit sal opneem met die Provinsiale kantoor.

Die Lephalale gemeenskaps-polisiëringsforum (GPF) is steeds besig met die bou van ʼn sleepwa wat in padblokkades gebruik kan word. Van Deventer het gesê daar is nog een of twee klein dingetjies wat reggemaak moet word voordat dit ten volle operasioneel sal wees. Dit is toegerus met ʼn kragopwekker, batterysisteem, luidspreker, veiligheidstoerusting wat tydens ʼn padblokkade gebruik word, merkers, blou soekligte en vele meer. Op die stadium gaan die sleepwa by die Bulgerivier polisiestasie gehou word en van daar verskaf word in noodgevalle.
 Die moontlikheid van ʼn satellietpolisiestasie in Steenbokpan is geopper want daar is ʼn groot nood in die breë gemeenskap asook in die informele nedersetting wat daagliks groei.
 Brig Masia het gesê dit kan in die nuwe finansiële jaar aangespreek word.
 Insidente waar houtplanke met spykers op veral die R510 neergesit is om ongelukke te veroorsaak of voertuie tot stilstand te bring, het een vragmotor tot stilstand gebring, maar volgens Van Heerden was daar baie vinnig gereageer en sedertdien was daar nog nie weer soortgelyke voorvalle nie.
 Brig Masia het bevestig dat daar wel ʼn noodplan sowel as ʼn mobilisasielys vir landelike veiligheid by elke polisiestasie in die kluster beskikbaar is. “Elke stasie het ʼn lêer waarin dié planne gebêre word.
 Hy het verder gesê enigiemand kan na die polisiestasie gaan en ʼn afskrif van die noodplan kry. Die mobilisasielys verskaf ook kontaknommers van rolspelers. Al die stasies in dié kluster wat val onder Lephalale Munisipaliteit het dieselfde lys, maar die nommers sal verskil.
 Brig Masia het bevestig dat daar gereël sal word om ʼn elektroniese weergawe beskikbaar te maak.
 Van Deventer het aangebied om die kontaklys van die landelike gemeenskap op te dateer sodat dit by elke stasie beskikbaar kan wees. “Veiligheid kan verbeter word as die lys opgedateer is,” het hy gesê.
 ʼn Vergadering, waar kwessies rakende verskiesingsdag aangespreek is, is reeds gehou. Kwessies is bespreek sodat daar nie ʼn herhaling kan wees van voriges nie en dit is aan die verkiesingskommissie deurgegee.
  Brig Masia bedank die vergadering dat hulle nie wag vir die volgende vergadering om ʼn kwessie raak te sien en uit te sorteer nie.
 “Ons kan sien dat hierdie vennootskap werk, want die klaer het julle geskakel, die kwessie is verwys na die verkiesingskommissie, dit is aangespreek en verwys na die betrokke party. Op dié manier word moontlike herhaling voorkom,” het brig Masia afgesluit.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.