“Niemand is gevrywaar van misdaad nie” — aanvalle neem toe

Die beseerde Peet Steyn

LEPHALALE — Die 34-jarige Tanya Swanepoel van Lephalale se ouers, Peet (59) en Hannetjie (61) Steyn, is Donderdag 19 September vanjaar deur twee verdagtes by hulle huis op ’n kleinhoewe in Onderstepoort, in die noorde van Pretoria aangeval en beroof.

Tanya en haar verloofde, Koos Alberts (47) woon op sy plaas naby Speculati.

Tanya vertel haar pa het die oggend om 04:15 vir haar ma die hek gaan oopmaak. Sy was op pad werk toe. Peet het vir Hannetjie gevra om so 70 m af in die grondpad te ry en die kar se ligte op die pomphuis te laat skyn, want hy dink hy het iets gehoor. Sy was skaars by die pomphuis toe sy die drie skote hoor.

Sy het teruggejaag waar die twee verdagtes, hulle gesigte met balaklawas bedek, haar uit die motor getrek en haar tot by die huis gedra het. Peet het by die hek gelê.

In die huis het hulle haar gevra om op die asblik te bly sit en indien sy nie saamwerk nie sou hulle haar skiet.

Hulle is weg met die TV, Peet se kluis met sy messeversameling, Hannetjie se beursie, handsak en hulle selfone. Hulle het Peet se beursie laat val.

“My ma het die traliehek gesluit nadat die verdagtes weg is en begin skree totdat die bure haar gehoor het. ’n Privaat-sekuriteitsgroep was eerste op die toneel,” sê Tanya.

Peet is in sy lies geskiet en moes ’n noodoperasie ondergaan. Sy bekkenbeen was ook gekraak. Hy sterk tans goed aan, maar beide Peet en Hannetjie kry verskriklike nagmerries oor die voorval. Hulle gaan binnekort vir berading.

Volgens Tanya het aanvalle en inbrake geweldig toegeneem in die area waar haar ouers gewoon het. Hulle sal nie weer terugkeer na die huis waarin hulle 21 jaar gebly het nie.

“Daar is die laaste drie weke by die kleinhoewes reg rondom hulle ingebreek en minstens een vrou is verkrag. Die 9 mm-pistool waarmee hulle my pa geskiet het, is dieselfde wapen waarmee ’n ander vrou in die area geskiet is. Die spore stem ook ooreen.

“Die verdagtes is in al die gevalle deur ’n voertuig opgelaai nadat hulle die misdaadtoneel verlaat het,” sê Tanya.

Wat met Tanya se ouers gebeur het, kan met enigiemand gebeur – niemand is gevrywaar van misdaad nie. Tanya sê egter wat in hulle geval die verskil gemaak het, is dat die bure en die privaat sekuriteitsgroep eerste op die toneel was en dadelik opgetree het.

Tanya voel sterk daaroor dat mense meer betrokke by mekaar en by veiligheid moet raak, ook in Lephalale.

“Die plaaslike GPF het onlangs op ’n WhatsApp-groep gesê dat aanvalle op die platteland en in die stede landswyd drasties toegeneem het in die laaste drie weke.

“Ek kan dit bevestig en sê na my ouers se aanval is daar daagliks mense aangeval en geteister.

“Ek waardeer die GPF-groep en die “first responders” baie – veral vir die feit dat hulle mense bewus maak van huidige gevare. Nie almal gee gehoor daaraan nie, totdat dit met jou familie gebeur.
 “Moenie dink jy is gevrywaar van noodsituasies en misdaad nie.

“Ek wil mense vandag aanmoedig om moeite te doen om die GPF se dienskamer te laat voortbestaan. Raak betrokke by veiligheidsisteme,” sluit sy af.

Skakel die GPF-dienskamer by 081 701 1089 vir meer inligting.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.