Nimmereindigende doef-doef — inwoners op breekpunt

LEPHALALE — Die kwessie van rusverstoring in Lephalale kom ʼn lang pad. As dit nie die nimmereindigende gedoef-doef van musiek vanuit kuier- en drinkplekke onder in die dorp is nie, dan is dit die aanhoudende speel van musiek en dronkmanspraatjies vanaf Mahlakung wat die inwoners laat wakker lê.

Die inwoners in die omgewing van die informele nedersetting langs die Ellisras Provinsiale Hospitaal, Mahlakung (ook bekend as Plastic View) en in Lephalale dorp is rasend en op breekpunt omdat daar nooit rus of stilte is nie.

ʼn Spesiale WhatsApp-groep is ʼn tyd gelede gestig in ʼn poging om almal wat deur rusverstoring geraak word bymekaar te kry sodat daar opgetree kan word.

Opmerkings op die groep getuig van moedelose, slapelose inwoners wat nie meer weet watter kant toe nie. “Weer ʼn laaaaaang slapelose naweek. Musiek pomp van Hospitaal se kant af”.

“Ek bly in Arenite woonstelle, die musiek is van Donderdae tot Maandae-oggende konstant so hard dat geen mens kan slaap nie. Ek het al voorheen die polisie gekontak en hulle het gesê hulle kan nie inmeng nie en dat daar nie meer so iets soos rusverstoring is nie”.

“En dit blêr nog al die pad. Dis 01:27 in die oggend. Wanneer moet mens rus?”

Tydens die Junie-vergadering van die gemeenskaps-polisiëringsforum (GPF) is dit bespreek dat daar boonop drank verkoop word in Mahlakung en dat dit teen die wet is om drank te verkoop in ʼn informele nedersetting. Die algemene gevoel was dat dit net NOG iets is wat onwettig is en waaraan niks gedoen word nie.

Mogol Pos het die kwessie van rusverstoring met adjudant-offisier Frans Mokoena, Lephalale Kluster woordvoerder, bespreek. Volgens hom werk dit so:

In die geval van rusverstoring – bel die polisie en vra hulle om met die mense wat die rus versteur te praat. Indien die skuldiges nie voldoen aan die polisie se versoek om op te hou raas nie, kan die klaer weer die polisie bel en ʼn kort verklaring aflê dat die geraas steeds voortduur. Volgens hom kan die polisie dan optree en die skuldiges aankla, arresteer of ʼn boete gee of die toerusting konfiskeer. Volgens Mokoena is een van die probleme dat die klaers nie bereid is om ʼn verklaring af te lê nie en dan kan die polisie nie optree nie.

Mokoena beweer ook dat die sekuriteitsbeamptes wat by Mahlakung werk, nie saam met die polisie werk nie. “Hulle waarsku die geraasmakers en wanneer die polisie daar opdaag is dit doodstil,” sê hy.

Thys Eloff, voorsitter van die Lephalale gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) sê dié mense word dag en nag aan die nimmereindigende geraas blootgestel en hulle pleidooie val op dowe ore. Dit veroorsaak later dat mens nie meer toerekeningsvatbaar kan optree nie.

“Daar sal drasties optrede van beide die munisipaliteit en die polisie se kant af moet wees om te verhoed dat die mense wat naweek vir naweek deur onophoudelike geraasbesoedeling geteister word reg in eie hande neem,” sê hy.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.