Nóg drie in selle na vermeende stroping

LEPHALALE — Lede van die Heritage Protection Group (HPG), saam met wildbewaarders van D’Nyala Natuurreservaat en lede van die GPF, het Vrydag 27 Julie drie vermeende renosterstropers naby die Markenpad voorgekeer en gearresteer. Lede van die GPF en ander het van die paaie toegemaak.

Volgens Sakkie Louwrens van HPG het die verdagtes aan hulle erken dat hulle reeds ʼn hele paar kere by D’Nyala was om die omgewing te verken.

Louwrens sê buiten ʼn geweer (of gewere) wat in lappe toegedraai was, is daar ook byle, sae en ander toerusting wat in renosterstropings gebruik word by hulle gevind. Die maak van die gewere was afgevyl.

Die verdagtes het Maandag 30 Julie in die Landdroshof in Lephalale verskyn en die saak is uitgestel na Maandag 6 Augustus vir borgaansoeke.

Vrydag se arrestasie bring die totale aantal vermeende stropers wat in een week gearresteer tot ses. Daar is verlede Maandag ook drie vermeende stropers op ʼn wildplaas in die Overyssel-omgewing gearresteer en ʼn CZ-jaggeweer is gekonfiskeer. Hulle verskyn ook Maandag in die hof vir borgaansoeke.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.