Nutsman verdwyn

LEPHALALE — Sommige sosiale mediabladsye gons al ʼn geruime tyd oor die Ellisras Nutsman, of te wel Lutgen Landman. Sy dienste het blykbaar ook bekendgestaan as Lutgen Landman Contractors.

Mogol Pos het met verskeie mense gepraat wat beweer hy het hulle geld gesteel en dan verdwyn en nooit die werk gedoen nie. Hy het na bewering sy werkers óf niks óf baie min betaal en sommige mense beweer “hy het mense wat desperaat is vir werk uitgebuit”.

Van skadunette en afdakke tot wendyhuise en swembaddens – dit klink of Landman daardie diens kon lewer.

Volgens van sy “slagoffers” het hy oornag verdwyn. Mogol Pos wou met sy ouers praat maar hulle is volgens inligting in die buiteland om vir hulle kleinkind te gaan kuier.

 Hy was nie getroud nie, maar het wel ʼn kind by ʼn vrou in Lephalale. Sy sê hy het vir mense vertel hulle is getroud, maar is besig om te skei en dat hulle baba siek is in Pretoria. Sy sê niks daarvan is waar nie.

“Ek weet ongelukkig nie waar hy is of waarheen hy is nie. Hy het kontak met my verbreek op 7 April 2018 en die Dinsdag het ek net by ander mense gehoor hy is weg nadat sy werkers hom by my werk kom soek het. Hy het so baie skade gedoen en ek het self nie antwoorde nie,” sê sy. Sy ontvang geen onderhoudsgeld van hom vir die baba nie.

Lutgen het sy woonstel blykbaar oornag ontruim en die sleutel in die deur gelos.

Mogol Pos het sy nommer probeer bel, maar die telefoonnommer bestaan nie meer nie en sy Facebookprofiel is heeltemal skoongemaak.

Van die mense wat hy na bewering besteel het, het intussen besluit om die hulp van ʼn privaatspeurderdiens in te roep.

Verskeie van sy “slagoffers” het beweer dat daar ʼn bedrogsaak teen hom geopen is, maar Mogol Pos kon geen saaknommers bevestig nie.

Landman het na bewering met baie mense se geld weggeloop nadat deposito’s (sommige groot bedrae) betaal is.

Inskrywings op sosiale media lees onder meer:

“Hy het baie mense ingeloop en party met groot geld”.

“Hi julle. Ek’t laas week geplaas van Lutgen wat weg is met ons deposito van R22 000. Ek het met sy pa, stiefma en sy “ex”-vrou gepraat. Ons het ʼn diefstal- en bedrogsaak gaan oopmaak maar die ou het niks. So nie moontlik dat enige een enige iets gaan terug kry nie. Was al 100 keer by sy huis daar is niemand. Hys weg soos ʼn dief in die nag” (sic).

Enigiemand met enige inligting oor waar hy hom bevind kan adjudant-offisier Frans Mokoena skakel by 073 429 8959.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.