Nuus vanuit die LVF

LEPHALALE — Die Landelike Veiligheidsforum (LVF) vergadering is Donderdag 25 April vanaf 09:00 by die Agri-kantoor gehou.  

Die doel van dié vergadering is terugvoering van die verskillende wyke in sektor 4 (landelike gebiede), die deel van inligting en om misdaadtendense aan te spreek.

Daar is tydens dié vergadering bevestig dat ambulansdienste in Lephalale nie altyd geredelik beskikbaar is nie as gevolg van ekonomiese oorlewing. Dit is vir ambulanssdienste finansieel beter om pasiënte te vervoer na hospitale in die stad.

Enige beheerde brande mag tot aan die einde van Junie gemaak word en alle voorbrande moet voor dan gemaak word.

Hondevergiftiging en inbrake in die dorp kom steeds voor. Daar is reeds sowat 26 honde vergiftig. Die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) monitor die tendens.

Grondeienaars word gewaarsku om vinnig op te tree in die geval van grondbesetting. ʼn Onlangse voorval van plaasbesetting in Swartwater het die realiteit van grondbesetting beklemtoon.

Voorstelle uit die vergadering sluit die samewerking tussen die GPF Dienskamer en Monster Sekuriteit in vir ʼn veiliger gemeenskap. Voorvalle moet volgens prosedure gerapporteer word en die inligting moet volledig en korrek wees sonder om onnodig paniek te saai.

Die noodsaaklikheid van plaasnommers is weer eens beklemtoon en wyke wie se plaasnommers uitstaande is, is BOG, TOOG en Stockpoort. Die voorstel word gemaak dat elke plaas wat nie ʼn nommer het nie, self deur die grondeienaar genommer word. As die nommer opmekaar volg soos C1 en C2 dan nommer jy die plase tussenin wat nie nommers het nie bv C1A en C1B.

Daar is beklemtoon dat alle voorvalle, hoe gering ook al, na Delta 1 deurgegee moet word en wyksvoorsitters is verantwoordelik vir die oordra van die boodskap.

Radiotoetse moet ook gesien word as rapporteringsprosedures.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.