Nuwe bloed vir EHS

LEPHALALE — Adriaan Joubert (35) is die splinternuwe skoolhoof van Hoërskool Ellisras en hy was reeds Maandagoggend 5 Maart op sy pos. Gereed om Hoërskool Ellisras na groot hoogtes te lei.

Adriaan Joubert, EHS se nuwe hoof

Mogol Pos het Dinsdagoggend die voorreg gehad om hom in sy kantoor te besoek vir ʼn vinnige kennismaking.

Joubert sê sy groot doelwit is om te sien dat Hoërskool Ellisras op alle terreine die top-kompeterende skool in Limpopo word. Dit sluit akademie, sport en kultuur in.

Sy tweede doelwit is om die gemeenskap te dien en om daartoe by te dra dat wanneer ʼn kind matrikuleer aan Hoërskool Ellisras, daardie kind weerbaar en lewensgereed is vir die wêreld daar buite. “Ons jong mense lewe in ʼn baie uitdagende tyd waar die samelewing groot eise stel,” sê hy.

Joubert sê onderwys is sy passie. “Ek kom uit ʼn onderwys-huis en dit is die één beroep waar jy in ʼn positiewe omgewing met mense werk. Onderwys is een van die min beroepe (waar jy met mense werk) wat opbouend is,” sê hy.

Hy glo aan balans in alles wat jy aanpak. “Ek sou graag wou sien dat EHS se leerders gebalanseerde mense is wat deelneem aan akademie, sport en kultuur,” sê hy verder. Hy moedig ook die leerders aan om met hom te praat en sê dat hy glo in ʼn oop-deur-beleid vir leerders en kollegas.

Joubert praat met groot lof van die onderwysers by Hoërskool Ellisras en sê hulle is ʼn ongelooflike groep mense. “Ek kan nie wag om passievol saam met hulle my doelwitte te bereik nie”. Hy bedank Nils Meiring wat tot en met sy aanstelling waargeneem het as skoolhoof en hy sê Meiring het hom uitsonderlik goed van sy taak gekwyt.

Meer oor Adriaan Joubert:
• Hy het sy onderwysloopbaan by die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) in Pretoria begin.
• In 2011 het hy saam met sy broer die professionele musiekwêreld betree en die groep JUBA is gestig.
• Hy was sedert 2016 tot sy aanstelling by EHS waarnemende hoof by Mohlaka Motala High School naby Vaalwater. Hy het die musiekbedryf na dié aanstelling vaarwel geroep.
• Sy vrou, Anri, is ʼn “beauty” en ʼn apteker van beroep.
• Hulle het drie kinders, Anika, Jacobus en Elrika.
• Hy is tans besig met sy tweede honneursgraad in “skoolbestuur” by TUKS.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.