Nuwe leraar vir Koedoesrand

Die Schunke-gesin

Hannetjie Loots
SWARTWATER — Die Nederduits Gereformeerde Kerk op Swartwater het die afgelope naweek hul nuwe leraar, ds Carl Schunke, en sy gesin in die gemeente verwelkom te midde van ’n fees van reën.

Ds Schunke is beroep vanaf Germiston se Elsburg-Suid gemeente en moes sak en pak met sy gesin vanaf die “voorwêreld” verhuis na Swartwater. Dit sou egter ’n fout wees om te dink dat hul stadsjapies is, aangesien hul onder andere ook al nege jaar in Dwaalboom naby Thabazimbi gewoon het.

Ds Carl is baie lief om met sy hande te werk en het reeds sestien keer die Comradesmarathon voltooi.

Anina Schunke is ’n maatskaplike werker wat al by verskeie instansies in dié hoedanigheid werksaam was. Sy is lief vir lees en musiek wat sy baie sal kan geniet in die Bosveldstilte.

Die egpaar het twee seuns. Theo is in graad 9 aan die Hoërskool Ellisras en is baie lief vir sport. Heinrich is vanjaar in graad 7 aan die Laerskool Unitas in Swartwater en hy hou van kuns en musiek. Dit is vir die gesin ’n groot aanpassing dat die kinders vir die duur van hul hoërskoolloopbaan gedurende die week in die koshuis sal moet bly.

Die Schunkegesin sien uit daarna om hul nuwe gemeentelede te leer ken en om ’n pad saam met hulle te stap deur vreugdetye maar ook tydens die onvermydelike hartseertye, en om só saam met hulle te groei.

Sondag 19 Januarie se erediens en gemeente-ete was ’n besondere ervaring, omdat dit letterlik bekroon was met “strome van seën van Bowe” en byna almal druipnat, maar dankbaar huis toe is.

Mag dit ’n vooruitskouing wees van die “oes” waarvoor ds Carl Koedoesrand in sy preek opgeroep het om te bid.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.