Nuwe pad verwar

LEPHALALE — ʼn Botsing tussen ʼn Toyota dubbelkajuitbakkie en ʼn Mercedes-Benz Dinsdagoggend 23 Januarie omstreeks 09:00 op die ou Vaalwaterpad skuins voor The Junction se ingang, het die kwessie rondom die nuwe sirkel by die Vaalwater/Lephalale/Thabazimbi T-aansluiting opnuut onder die vergrootglas geplaas.
Volgens Elmarie Roos wat die Mercedes-Benz bestuur het, het sy oudergewoonte gaan oefen by The Junction se perseel en sy en haar twee seuns, Jano (5) en Wihan (7) was op pad huis toe. Omdat daar geen deurgang is terug dorp toe vanaf The Junction nie, moet daar eers ʼn ent in die rigting Thabazimbi gery word om dan ʼn U-draai te maak.
Jaco Gouws was met sy Toyota dubbelkajuitbakkie op pad na rigting Thabazimbi en volgens hom het hy gedink sy draai links uit op die grond op die soom van die pad. Hy sê hy het nie gesien haar regterflikkerlig is aan om weer oor die pad te ry nie.
Ván die motoriste wat by die toneel gestop het, was baie ontevrede oor die feit dat daar nie ʼn deurgang is nie en hulle sê hierdie voorval was “ʼn ongeluk wat gewag het om te gebeur”.
Mogol Pos het teen druktyd nie terugvoer van SANRAL of die ingenieursmaatskappy wat deur SANRAL gekontrakteer is, gekry nie en ʼn opvolgberig oor die pad word beplan. Motoriste word intussen gewaarsku om uiters versigtig te wees met die omdraaislag op pad terug dorp toe.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.