Ontsnap, gevind

LEPHALALE — Petrus Moyo (27) het Dinsdagoggend 14 November uit die aanhoudingselle by Lephalale SAPD ontsnap en hy is Woensdagoggend 15 November rondom 04:00 weer gearresteer in Lephalale.
Volgens inligting word die aanhoudingselle waar die gevangenes snags slaap om 06:00 soggens oopgesluit. Moyo het ontsnap nadat die selle oopgesluit was en hy beweer dat ʼn mede-gevangene hom gehelp het met die ontsnapping (die tralies waardeur hy ontsnap het is deurgesaag).
  Moyo is verhoorafwagtend in Lephalale en voor sy ontsnapping was daar nege aanklagte teen hom onder andere die moord op dr Werner Emslie (55) en die aanval op dr Mariëtte Emslie tydens ʼn plaasaanval op hulle plaas Waterval op 20 September vanjaar. Moyo is deur lede van die Heritage Protection Group (HPG), Lephalale SAPD-taakspan, speurders en lede van misdaadintelligensie in Frankfort gearresteer nadat inligting opgevolg is. Hy het na ondervraging verskeie uitwysings gedoen wat hom positief verbind met die moord op dr Werner Emslie en poging tot moord op dr Mariëtte Emslie. Sy vingerafdrukke het hom met nóg misdade verbind waar onder huisbrake en koperdiefstal. Moyo is Dinsdagoggend rondom 04:00 gearresteer nadat hy by ʼn huis agter Lephalale Mall ingebreek het. Hy was reeds binne-in die huis toe die inwoners wakker geword en hom in die huis sien loop het. Hy het reeds van hulle selfone in sy besit gehad. Die polisie is ontbied, hy is gearresteer en geïdentifiseer as die ontsnapte gevangene.
  Moyo het Maandag 13 November in die Landdroshof in Lephalale verskyn waar hy tereggestaan het op nege aanklagte van onder andere moord, huisbraak en diefstal. Hy is boonop ʼn Zimbabwiese burger en onwettig in die land.
Adjudant-offisier Frans Mokoena van Lephalale SAPS het Maandag bevestig dat die saak uitgestel is tot 14 Desember 2017 vir verdere ondersoek. Hy is nie borg toegestaan nie.
Moyo het Woensdag 15 November weer in die Landdroshof in Lephalale verskyn op nog twee aanklagte van ontsnapping uit aanhouding sowel as huisbraak. Die uitslag van die hofverskyning was teen druktyd onbekend. Die totale aantal aanklagte teen hom is 12.
Twee ander verdagtes was teen druktyd steeds op vrye voet.
Die ondersoek duur voort.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.