Ontsnapping misluk

Rasodi en Molangoa

LEPHALALE — Phineas Molangoane (36) en Tshepo Justice Rasodi (25) het Vrydagaand om 19:00 uit die aanhoudingselle by Lephalale SAPD probeer ontsnap. ʼn Wenk aan die polisie het die ontsnapping verhoed.

Beide staan tereg vir die moord op Piet (Vink) Pieterse op 6 Februarie 2017 op die plaas Sumadi in die Afguns-omgewing.

Buiten die moordklag staan Rasodi ook tereg vir huisbraaksake en die diefstal van ʼn motorvoertuig en Phineas Molangoane (36) staan tereg op aanklagte van moord, verkragting, huisroof en ontsnapping uit aanhouding.

Volgens adjudant-offisier Frans Mokoena, Lephalale Kluster woordvoerder, het die polisie ʼn wenk ontvang dat die verdagtes beplan om te ontsnap en toe hulle ondersoek instel is ʼn saag en ʼn selfoon in hulle sel gevind. Volgens Mokoena het hulle beplan om aan die agterkant van die selle, waar hulle slaap, te ontsnap.

Molangoane en Rasodi het Maandagoggend in die Landdroshof in Lephalale verskyn, beide op ʼn bykomende aanklag van ontsnapping uit aanhouding.

By navraag is aan Mogol Pos gesê dat twee verdagtes wat teregstaan vir dieselfde saak of sake, nie ʼn sel mag deel nie. Volgens Mokoena is dit nie die geval nie en geld dié reël eers wanneer verdagtes gevonnis is.

Mokoena sê verder die polisie besoek die selle op ʼn uurlikse basis – juis om sulke voorvalle te verhoed.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.