Onwettige immigrante — DBS moet ingryp

LEPHALALE — Aldo Venter, voorsitter van AfriForum in Lephalale het tydens die gesamentlike vergadering Woensdag 13 Februarie sy bekommernis uitgespreek daaroor dat lede van AfriForum by drie afsonderlike geleenthede groepe onwettige immigrante langs die pad opgelaai en teruggeneem het Polisie toe.

Volgens Venter het die immigrante gesê die polisie het hulle afgelaai en vir hulle gesê dit is die pad na Johannesburg. Hulle was vir ʼn lang tyd sonder kos, water of ʼn dak oor hulle koppe.

ʼn Plaaseienaar in die Dorset polisiëringsarea het gesê hy het in een week twee groepe onwettige immigrante opgelaai wat die wettige polisiedokumente by hulle het dat hulle vir 48 uur in aanhouding was maar die deportasiereëls word nie gevolg nie.

Brigadier John Masia het gesê hy het die probleem reeds by Provinsie aangemeld, maar hy ondervind probleme met die Departement van Binnelandse Sake. Hy sê dit is hulle verantwoordelikheid om seker te maak die onwettige immigrante word gedeporteer en dit is ʼn groot probleem vir die polisie.

“Ons kan hulle nie langer as 48 uur aanhou nie, sê brigadier Masia.

Masia het verder gesê elke persoon wat Suid-Afrika se grense onwettig oorsteek se eindbestemming is Johannesburg. Hy het aanbeveel dat ʼn lid van die Departement van Binnelandse Sake die “Joint”-vergadering bywoon.

Venter het bygevoeg dat AfriForum reeds ʼn brief gestuur het aan die DBS, en SAPD Nasionaal en Provinsiaal.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.