Ortopediese chirurg nou by Mediclinic

LEPHALALE — Dr Reynard Immelman, ʼn ortopediese chirurg, het op 4 April by Mediclinic Lephalale aangesluit. Hy sal aanvanklik een keer per maand, gewoonlik die eerste Donderdag van die maand, pasiënte in Lephalale spreek en praktiseer steeds by Die Wilgers-hospitaal in Pretoria waar hy ʼn praktyk met dr Jan de Vos deel.

Dr Reynard Immelman, ortopediese chirurg, sal voortaan een keer per maand pasiënte sien by Mediclinic Lephalale

Dr Immelman het sy MBChB-graad aan die Universiteit van Pretoria (UP) behaal en nadat hy sy gemeenskapsdiens voltooi het, het hy weer by die UP se Ortopediese Departement aangesluit waar hy sy meestersgraad in ortopedie en FC Orth (Fellowship of the College of Orthopaedic Surgeon) grade met onderskeidings behaal het.

Na die afhandeling van sy studies het hy die geleentheid gekry om by die Royal Infirmary of Edinburgh in the Verenigde Koninkryk te werk. Dit is hier waar hy vir ʼn jaar lank verder gespesialiseer het in heup- en kniechirurgie en veral vervangings.

Gedurende hierdie tyd het hy uitgebreide ondervinding opgedoen in die konserwatiewe en chirurgiese hantering van pasiënte met heup-, knie-, voet- en enkelpatologie.

Hy het ’n besondere belangstelling in totale heup- en knievervangings (primêre en hersiening), robotiese heup- en kniechirurgie sowel as voet- en enkelchirurgie.

Dr Immelman is aktief betrokke by ortopediese navorsing, beide plaaslik en internasionaal en het al in Suid-Afrikaanse en Europese eweknie-hersiene joernale gepubliseer.

Dalene de Villiers, hospitaalbestuurder by Mediclinic Lephalale, sê sy hoop dat hy ook binnekort plaaslik sal begin opereer.

Dr Immelman sê hy dink al jare daaraan om ook in die Bosveld te praktiseer, want hy wou nie nét in die stad bly nie. Met sy terugkoms na ʼn jaar in Skotland het hy die praktyk spesifiek so beplan dat hy kan weggaan met tye om buite die stad te wees en steeds sy passie uit te leef.

“Ek wou altyd heupe en knieë doen – dit is ʼn ‘wenner-operasie’, mense is net soveel beter na die tyd – mense respondeer verskillend, maar is gereeld binne dae of ure na chirurgie beter as wat hul voor die tyd was.

“Een van die dinge waarop ek en Jan navorsing gedoen en gepubliseer het, is oor om vas te stel hoe pasiënte vinniger kan herstel sodat hulle gouer uit die hospitaal ontslaan kan word en vinniger herstel na chirurgie – verbeterde herstel,” verduidelik hy.

Alhoewel dr Immelman die geleentheid gehad het om aan te bly in Skotland het hy besluit om terug te keer na Suid-Afrika omdat hy hou van sy land, veral van die Bosveld.

Dr Immelman is getroud met Elandie, ʼn fisioterapeut.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.