Oud-leerder bring dokters na Bosveld

LEPHALALE — Die bestuurspan van Emergency Medicine Pretoria (EMP) het traumadokters vanaf 8-10 September na De Kuile in die Bosveld gebring vir ʼn spanbou.

Die Bosveld met sy helende krag het dié groep dokters van Pretoria met nuwe moed en inspirasie na die stad laat terugkeer

Dié span, onder leiding van prof Dries Engelbrecht, hoof van Steve Biko Trauma; prof Miemie Geyser, hoof van Kalafong Trauma en twee konsultante, drs Vidya Lalloo en Anriette Hoffeldt, saam met agt registras (traumadokters wat deur die bestuurspan voorberei word vir hul finale eksamens) het die akademie in die Bosveldson en natuur aangepak.

Hulle het elke dag begin met ʼn joga-sessie onder ʼn kameeldoringboom met die Mogolriviersand tussen hulle tone. Elkeen het ʼn geleentheid gekry om ʼn lesing of aktiwiteit aan te bied rakende hulle akademiese veld.

Prof Engelbrecht, ʼn kenner op die gebied van giftige goggas en slange asook prof Geyser, ʼn voëlkenner, het die natuur vir die stadsbewoners “lewendig gemaak”.

Vir die kaalvoetkind van die Bosveld, Rulé Human, was hierdie ʼn onvergeetlike ervaring waartydens sy die helende kragte van die Bosveld met haar kollegas kon deel. Die medisyne van Moeder Natuur het gedrup oor gejaagde, oormoeg, vitamien D-tekortlywe van ʼn groep dokters wat elke dag die goue-uur-geleenthede gryp om lewens te red.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.