Paramedikus red 6 weke oue baba

LEPHALALE — ’n Hedendaagse wonderwerk het hom Dinsdagaand 4 Augustus langs ’n pad in Lephalale afgespeel toe ’n 6 weke oue babadogtertjie weer begin asemhaal het nadat sy, volgens paramedici, vir ’n paar minute “dood” was.

Toe die beampte aan diens by Monster Sekuriteit se beheerkamer in Lephalale Dinsdagaand ’n paniekboodskap ontvang dat dié babadogtertjie asemnood het, is ’n reaksievoertuig blitsvinnig na die gesin se huis in Onverwacht gestuur.

Zandré Pieterse, paramedikus van CLA911, ’n ambulansdiens in Lephalale, was Dinsdagaand aan diens en hy het die gesin halfpad tussen hulle huis en Mediclinic Lephalale ontmoet.

Pieterse vertel dat die pa van die baba die uitroep van die ambulans gekanselleer het nadat hulle besluit het om hul dogtertjie self hospitaal toe te neem om tyd te spaar. Zandré sê egter: “Ek het besluit om in elk geval te ry en te kyk of ek nie kan help nie.”

“Toe ons met die ambulans by die gesin stop kon ek geen pols voel nie en sy het nie meer asemgehaal nie. Nadat ek *kardiopulmonêre resussitasie toegepas het, het haar ogies wonderbaarlik oopgegaan en haar hartklop was terug. Ons het van die slym in haar neus en keel ontslae geraak en sy het skielik begin asemhaal en skree. Dit was die wonderlikste geluid,” vertel hy.

Volgens Francois Roets, eienaar van Monster Sekuriteit, het die noodoproep Dinsdagaand om 22:00 by hulle beheerkamer geregistreer en die babadogtertjie is om 22:17 deur Zandré “bygebring”. Sy was om 22:20 in die hospitaal en stabiel.

“Sy het om my bors gelê en slaap toe ek skielik opmerk haar gesiggie is rooi. Sy het ’n loopneus gehad en ek het uit radeloosheid my vinger in haar keel gedruk om die slym te probeer uitkry,” vertel die baba se pa.

Hy sê hy het tydens die poging om die slym uit haar keel te kry “êrens ook die paniekknoppie na Monster Sekuriteit se beheerkamer gedruk en die situasie verduidelik.
“Die ambulanspersoneel het ons halfpad gekry en haar dadelik by ons gevat en noodbehandeling begin toepas,” sê hy.

Teen druktyd het sy reeds begin “gesels” en glimlag.

“Ons wil graag die personeel van Monster Sekuriteit van harte bedank vir hulle vinnige, professionele optrede en hulp en bystand. Ons is dankbaar om te kan sê ons baba ‘gesels’ met ons en het begin glimlag,” sê haar pa.

Die personeel in Monster Sekuriteit (MS) se beheerkamer ontvang alle oproepe aan CLA911 en die ambulanse word deur MS uitgestuur.

  • Kardiopulmonêre resussitasie is ’n kombinasie van reddingsasemhaling en borsdrukke wat op ’n pasiënt met klaarblyklike hartstilstand toegepas word. Dit is ’n noodhulptegniek wat poog om die pasiënt by te bring. Wanneer dit op so ’n klein baba toegepas word, word duimkompressies ingespan.

(Die gesin het gevra dat hulle identiteit weerhou word ter wille van hulle privaatheid – Red)

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.