Plaasaanval eis Poem

2016-10-31-18-24

Leoni Kruger
LEPHALALE — Die 89-jarige Poem Lamprecht het Saterdagaand 29 Oktober in sy plaashuis gesterf nadat hy waarskynlik in sy bloed versmoor het. Hy en sy vrou, Kotie, was slagoffers van ‘n plaasaanval op die plaas Fancy net buite Lephalale.
Volgens Monica Human, ‘n dogter van Poem, het Hannes Lamprecht, Poem se kleinseun, en sy vriendin, Saterdagaand daar gekuier tot omtrent 20:00. Hulle is daarna huis toe, na die plaas Eendracht waar Hannes woon. Monica sê hulle vermoed die verdagtes het presies geweet wat hulle bewegings was.
Rondom 21:30 het iemand aan die deur geklop en Monica sê toe Kotie vra wie dit is, het die persoon geantwoord dat dit Hannes is. Kotie het die deur oopgesluit.
Drie mans het die huis binnegestorm – die een man het vir Kotie gegryp en die ander een vir Poem wat reeds op die bed gelê het. Hulle het geld en vuurwapens geëis. Monica sê hulle het die hele tyd met flitse in Poem en Kotie se oë geskyn. Die verdagtes het Afrikaans gepraat.
Intussen is hulle aanhoudend met ‘n soort “pyp” geslaan en hulle is geskop.
Volgens Monica is Kotie se hande agter haar rug aan die diefwering by ‘n venster vasgebind en haar klere uitgetrek. Poem se hande is ook vasgebind met die elektriese koord van ‘n bedlampie wat hulle afgesny het. Monica sê Poem het sekerlik die kluis se sleutel vir hulle gegee, want die kluis was oopgesluit en hulle is vort met ‘n groot bedrag kontant, Poem se handwapen en drie selfone.
Nadat hulle vertrek het, het Poem op die grond gelê en op ‘n manier sy knipmessie in die hande gekry en sy hande losgesny. Monica sê dit het gelyk of hy na Kotie probeer kruip het om haar hande ook te bevry, maar hy kon nie by haar hande uitkom nie. Hy het aan haar voete gesterf. Monica sê die mediese verslag dui aan dat hy in sy bloed versmoor het.
Monica het oudergewoonte Sondagoggend geskakel om te hoor of alles reg is by haar ouers. Die fone het net gelui.
Sy is na die belydenisaflegging van ‘n kleinseun en hulle sou daarna almal saam eet, maar sy was onrustig. Sy sê haar ouers sou altyd teruggeskakel het as hulle ‘n oproep gemis het, daarom was dit vir haar vreemd dat sy niks van hulle hoor nie. Toe ‘n ander familielid later vir haar vra of sy al met haar pa gepraat het, want sy kry hulle ook nie in die hande nie, het Monica in haar kar geklim en plaas toe gery. Dit was 11:00.
“Die huis se deure was toegetrek, maar nie gesluit nie. Dit is toe ek op hierdie verskriklike toneel afkom” sê Monica.
Kotie het steeds by die diefwering gestaan, haar hande vasgebind. Sy sê sy het gebid dat die tyd moet verbygaan sodat dit 15:00 word, want Monica het elke Sondagmiddag 15:00 na hulle toe gegaan.
Monica het haar skoondogter, Madeleine, geskakel om die polisie te ontbied en hulle was vinnig op die toneel. Volgens die spore wat gevind is, was daar drie verdagtes in die huis en nog twee verdagtes buite die huis. Hulle spore is gevolg tot by die hoek van die plaas waar hulle vermoedelik by die teerpad opgelaai is.
Kotie was teen druktyd steeds in Mediclinic Lephalale en volgens Monica gaan sy definitief nie terug plaas toe wanneer sy ontslaan word nie.
Volgens Sakkie Lourens van die Heritage Protection Group (HPG), wat die polisie met misdaadondersoeke bystaan, was daar teen druktyd nog geen positiewe verdagtes geïdentifiseer nie, maar hulle was druk besig met die ondersoek en hulle beskou die insident in ‘n baie ernstige lig.
Poem se begrafnis word DV Dinsdag 8 November om 11:00 vanuit die NG Kerk Albertyn gehou. Die teraardebestelling is op die plaas. Daar sal na afloop van die erediens verversings by die kerk bedien word – die familie nooi almal uit wat wel die teraardebestelling op die plaas gaan bywoon om ook na die tyd terug te gaan na die kerkgebou en verversings te gaan geniet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.