Plaasherwinning

LEPHALALE — Herwinning is ʼn realiteit en dit raak al die inwoners. Joe Meyer, voorsitter van die Lephalale Going Green inisiatief (LGG), het grondeienaars en wyksvoorsitters van die landelike gebiede Donderdag 23 Mei toegespreek.

Hy het gesê daar word beplan om vullis- en herwinningsfasiliteite by elke ingang van die dorp (Steenbokpan, Marken, Stockpoort en Thabazimbi) aan te bring sodat boere wat van die plaas af dorp toe kom hulle vullis en herwinbare produkte daar kan afgee. Daar sal ʼn aparte spasie vir herwinbare produkte wees.

Meyer het verder verduidelik dat daar beplan word dat dié areas naby aan die pad sal wees en dus nie afgeleë en onveilig nie.

Die munisipaliteit, wat saam met die LGG werk, sal dan verantwoordelik wees vir die verwydering van die vullis en om die herwinbare items na die regte plek te neem.

Op Meyer se vraag of die munisipaliteit die grondeienaars moet fooi vir dié diens het die boere geantwoord dat hulle reeds grondbelasting betaal.

Volgens Meyer is daar reeds 120 nuwe asblikke oral in die dorp aangebring – oranje dromme vir vullis en blou dromme vir herwinbare materiaal wat glas, blikkies, bottels, papiere, bokse ensovoorts insluit.

“Daar is reeds ʼn beduidende verskil in die areas waar die asblikke aangebring is. Mense doen moeite om te probeer om die regte ding te doen.

Wat elektriese ware aanbetref sê Meyer daar sal gereël word dat daar ʼn spesifieke punt is waar mense dit kan aflaai sodat dit van daar af herwin word. Die ou fluoressentligte het kwik in wat giftig is vir mense en batterye moet ook apart gehou word van ander rommel. Daar sal plekke geïdentifiseer word waar sulke items afgelaai kan word.

“Ons wil ook ʼn grassnyprogram in die dorp vestig. Ons gaan die dorp probeer skoon en reg kry. Die sypaadjies moet skoongemaak word en ons wil graag die ingange verfraai,” het Meyer afgesluit.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.