Pyn en trauma ná plaasaanval

VAALWATER/MELKRIVIER — Berdus Henrico (38) verduur baie pyn en hy en Estelle Nieuwenhuys (51), sy vriendin, is steeds geweldig getraumatiseer nadat hulle Dinsdagaand 6 Februarie op ʼn plaas naby Melkrivier oorval en geskiet is.

Berdus Henrico

Volgens Chrisna Henrico-Van der Merwe, Berdus se suster, sterk Berdus en Estelle tans aan by ʼn familielid in Bela-Bela.

Daar was aanvanklik twee koeëls in Berdus se skouer, maar die een het afbeweeg in sy bo-arm en die dokter kon dit onder lokale verdowing verwyder. Die ander een sit vas in sy skouer en kan nie nou verwyder word nie. ʼn Koeël is ook deur sy kaak en agter uit by sy nek. Hy het ook ʼn diep sny aan sy wang. Estelle is nie ernstig beseer nie.

Chrisna sê nadat hy heen en weer vervoer is van Provinsiale hospitale in Modimolle na Polokwane en sy wonde steeds erge infeksie het, het sy besluit om halt te roep.

“Berdus het nie ʼn mediese fonds nie en ek is besig om geld in te samel sodat hy behoorlike mediese sorg kan ontvang. Hy moet nou net antibiotika kry vir die infeksie en pynmedikasie. Die wonde moet oop bly sodat die infeksie kan opklaar,” sê Chrisna. (Die steke is Maandag 12 Februarie verwyder, maar al die wonde het infeksie).

Bydraes vir Berdus se mediese kostes kan in die volgende rekening inbetaal word:
Rekeningnaam: Melkrivier Plaasaanval Skenking, FNB, rekeningnommer 62747495655, takkode 250655, Besigheidstjekrekening.

Skakel Chrisna by 071 680 7861 of stuur ʼn e-pos na chrisnah83@gmail.com.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.