R100 000 vir landelike veiligheid

Francois Froneman, Douw Pelser en Johan de Beer glimlag breed tydens die oorhandiging van die tjek

LEPHALALE — Die Limpopo-landbouveiligheidsforum het Vrydag 24 Oktober ʼn tjek van R100 000 van die NTK ontvang as hulpmiddel om plase in Limpopo te beveilig. Die geld is deur middel van ʼn NTK-gholfdag te Koro Creek in Modimolle ingesamel.
Johan de Beer van Limpopo Landbouveilig-heidsforum en veiligheidsverteenwoordiger van TLU-Noord, het die NTK na afloop van die gholfdag bedank vir die puik inisiatief wat hulle gehad het om ʼn gholfdag te reël ten bate van landelike veiligheid. “Dit is ‘n groot voorreg om deel te wees van hierdie dag – ons almal besef die groot uitdagings daar buite rondom veiligheid asook die bedreigings vir ons as landbouers maar ook landboumaatskappye soos NTK. Ons besef ook ons grootste uitdaging in die stryd teen misdaad is altyd befondsing en daarom is dit vir ons ʼn groot voorreg dat NTK so ʼn reuse-bydrae maak in hierdie stryd. Ons sal die fondse positief aanwend. Die Provinsie sal positief hier uitstap,” het hy gesê.
Douw Pelser van die Limpopo landelike veiligheidsforum het sy dankbaarheid uitgespreek teenoor die NTK asook Francois Froneman, uitvoerende hoofbestuurder van NTK-SA, asook die bestuur en direksie.
“Hulle het uit hulle pad gegaan om veiligheid, wat ons nodig het vir daaglikse oorlewing, te kanaliseer in ʼn rigting waar dit aangewend kan word om almal daar buite se veiligheid te verbeter – plaaseienaars, plaasbewoners en plaasarbeiders. Ons is almal saam in hierdie stryd en ons moet hande vat en saamstaan om hierdie ding te laat werk. Dit is waarom NTK so ʼn radikale weg gevat het om vir ons geld op die tafel te sit. Baie, baie dankie aan NTK, almal wat betrokke was, die uitstallers, die spelers, ons is ongelooflik dankbaar. Dankie ook aan die komitee wat die aanwending van die geld sal reguleer, hulle sal dit op die regte manier aanwend, ten bate van almal in Limpopo,” het Pelser afgesluit.
Gholfspelers Riaan Nel en AW Besseling van Lephalale het eerste geëindig.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.